Nuus 06:00
BULLETIN 17 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma gaan volgens berigte ’n interdik aanvra teen sy ANC-tugverhoor
# Die AA sê neigings toon ’n geringe verligting in brandstofpryse vir Augustus
# En twee mense word aangekla van die moord op Jacques Freitag
# Oudpresident Jacob Zuma gaan glo ‘n interdik aanvra teen die ANC-tugverhoor teen hom. Hy word daarvan aangekla dat hy ANC-reëls oortree het, insluitend die party se grondwet. Dit gaan oor Zuma se besluit om die MK-party te ondersteun en te verteenwoordig in die algemene verkiesing in Mei. Hy het ook sy lidmaatskapseed verbreek toe hy nie stemme vir die ANC wou werf nie. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die interne tugverhoor sal vandag voortgaan soos beplan.
# Die Automobiel-Assosiasie verwag klein veranderings in brandstofpryse vir aanstaande maand met data in die middel van die maand effens laer, met 95-oktaan petrol sewe sent per liter laer en 93-oktaan vier-sent per liter laer. Dieselpryse mag effens laer wees met een-sent per liter. Lampolie kan met nagenoeg ses-sent per liter styg. Die woordvoerder van die Assosiasie, Eleanor Mavimbela, sê ten spyte van dalings, sal hoёr brandstofpryse voortduur en versoek ‘n hersiening van die brandstofprysstruktuur vir volhoubare oplossings:
# Twee verdagtes, die een ‘n onteerde voormalige prokureur en sy jarelange vriend, is aangekla in verband met die moord van die voormalige wêreldkampioen-hoogspringer, Jacques Freitag. Sy liggaam met skietwonde is op die eerste van vandeesmaand naby ‘n begraafplaas in Pretoria aangetref nadat hy twee weke tevore van sy ma se huis in Bronkhorstspruit verdwyn het. Citizen berig die twee verdagtes het verdwyn nadat hulle ondervra is. Die man is vroeër die week in Mpumalanga aangekeer maar die vrou is nog op vrye voet.
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli sê weens die omvang en frekwensie van rampe het die provinsie nie die fondse om verligting aan gemeenskappe te verskaf nie. Vernietigende brande in verskeie gemeenskappe in die provinsie se noorde en middellande, het minstens 14 lewens geëis, 25 beseer en duisende dakloos gelaat. Die oorledenes sluit ses brandbestryders in. Ntuli sê die swaar reën, tornado’s en brande van April tot Julie vanjaar het die hulpbegroting vir die jaar uitgeput:
# Die intelligensiediens in Amerika, die CIA, glo die leier van Hamas in Gaza is onder toenemende druk van sy eie bevelvoerders om die oorlog met Israel te beëindig. Die direkteur van die CIA, Bill Burns, het na wat berig word op ‘n vergadering gesê Yahua Sinwar kry die skuld vir die lyding in die gebied. Volgens CNN glo die Amerikaanse intelligensiediens Sinwar, wat moet besluit of Hamas ‘n ooreenkoms moet aanvaar, skuil tans in die tonnels onder Khan Younis. Burns sê sy bevelvoerders is moeg geveg nadat die oorlog vroeg in Oktober uitgebreek het.
# Rugby: Die eerstekeuse Springbokke rus van vandag af ‘n bietjie vir tien dae tussen die gelykopreeks teen Ierland en die begin van hulle voorbereidings vir die Rugby-kampioenskap. Salmaan Moerat voer Suid-Afrika aan in Saterdag se eenmalige toets teen Portugal in Bloemfontein. Intussen hou die bestuur asem op oor die fiksheid van die staatmakers Pieter-Steph du Toit, Malcolm Marx en Franco Mostert, wat almal op die krukkelys is. Die Bokke se eerste kragmeting in die Kampioenskap is op die tiende van volgende maand teen die Wallabies in Brisbane.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-510-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-472-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….