Nuus 06:00
BULLETIN 12 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee nuwe gevalle van A-pokke word aangemeld
# Die Nasionale Vervolgingsgesag bespoedig sy ondersoek ná die Life Esidimeni geregtelike ondersoek
# En rugby: Andy Farrell maak vier veranderinge aan Ierland se opdrafspan
# Die Departement van Gesondheid bly waaksaam teen A-pokke na twee nuwe bevestigde gevalle dié week. Dit bring die totaal sedert die uitbreking in Mei op 22 te staan. Die jongste gevalle is ‘n 40-jarige man van Johannesburg wat in Durban gediagnoseer is en ‘n 26-jarige van Nqutu in KwaZulu-Natal. Beide pasiënte het geen internasionale reisgeskiedenis nie. Foster Mohale van die departement moedig enigeen wat A-pokkesimptome toon aan om ‘n mediese ondersoek te ondergaan, te isoleer en saam te werk met kontakopsporingspogings om verdere oordrag te keer.
# Stakende werkers verbonde aan die metaalwerkersvakbond, Numsa by Ford se vervaardigingsaanleg in Silverton, Pretoria, sal vandag terugkeer werk toe. Die werkers eis bonusbetalings en winsdeling. Die Arbeidshof het verlede week ‘n tussentydse bevel aan Ford SA toegestaan wat die staking verbied. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê Ford se bestuur het ingestem dat stakende werkers nie tugprosedure in die gesig staar nie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag onderneem om ondersoeke voorop te stel ná die uitspraak oor die Life Esidimeni-ondersoek. Die bevinding van die Hooggeregshof in Pretoria hou voormalige Gautengse gesondheidsbeamptes aanspreeklik vir minstens nege sterftes onder meer as 140 pasiënte. Terwyl geen aanspreeklikheid gevind is vir die ander sterftes nie, sal die gesag die uitspraak hersien om moontlike strafregtelike vervolgings te bepaal. Woordvoerder Lumka Mahanjana sê hulle werk saam met die Polisiediens om seker te maak ondersoeke word vinnig afgehandel vir verdere regsbesluite.
# Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum sê hy bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag aangesien swaar reën, oorstromings en skadelike stormwind vandag en môre kan voortduur. Sedert die eerste kouefront die Wes-Kaap Maandag getref het, is sowat 14-duisend strukture beskadig wat ‘n uitwerking op sowat 15-duisend mense reg oor die provinsie gehad het. Skole in die Kaapse Wynland- en Overberg-onderwysdistrikte bly gesluit, terwyl Eskom se tegniese spanne 24 uur per dag werk om krag te herstel na verskeie gebiede, insluitend dele van Mosselbaai en Worcester.
# President William Ruto van Kenia het bykans sy hele kabinet afgedank, met net die adjunkpresident en eerste kabinetsekretaris steeds in hul poste. Hy het ook die prokureur-generaal afgedank. Die president is onder druk nadat pogings om ‘n omstrede belastingwetsontwerp deur te druk, verlede maand gewelddadige betogings regoor die land ontketen het. Minstens 39 mense is dood in gevegte met die polisie. Ruto het belowe om ‘n nuwe regering te vorm wat klein en doeltreffend sal wees:
# Rugby: Hoofafrigter Andy Farrell het vier veranderinge aangebring aan Ierland se opdrafspan vir môre se tweede toets teen Suid-Afrika in Durban. Garry Ringrose speel in die middelveld en die skakelpaar is albei van Munster, met Conor Murray op skrumskakel wat aansluit by losskakel Jack Crowley. Tadgh Beirne verskuif na toekant-flank, James Ryan begin op slot en Rónan Kelleher is die haker. Volgens Kelleher glo hulle vas hulle kan wen om die reeks te deel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-373-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….