Nuus 06:00
BULLETIN 31 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa se regspan voer aan dat die MK-party se saak in die Hooggeregshof hoort
# Nog sewe is dood aan hongersnood in Gaza
# En rugby: Rassie Erasmus sê nie een van die Onder 20’s sal vanjaar vir die Bokke speel nie
# President Cyril Ramaphosa se prokureur, Kate Hofmeyr, sê die MK-party-saak rakende die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se spesiale verlof moes in die Hooggeregshof gewees het, nie die Konstitusionele Hof nie. Mchunu is op verlof geplaas ná die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se bewerings van politieke inmenging. Hofmeyr het aan die hof gesê die saak val nie onder die uitsluitlike jurisdiksie van die Konstitusionele Hof nie, aangesien dit ‘n roetine-uitoefening van presidensiële mag behels, nie ‘n regstreekse grondwetlike oortreding nie:
Intussen sê oudpresident Jacob Zuma se prokureur, Dali Mpofu, Cyril Ramaphosa het ministers bevorder wat in die bevindinge van die Staatskapingkommissie geïmpliseer was. Die Konstitusionele Hof het uitspraak voorbehou in die MK-party se saak waarin Ramaphosa se besluit uitgedaag word om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas. Mpofu voer aan daar is geen rasionele verband tussen Mchunu se spesiale verlof en die bevindings van die Madlanga Kommissie nie:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Toedelingswetsontwerp, ‘n belangrike deel van die nasionale begroting, goedgekeur. Die wetgewing beskryf die verdeling van regeringsfondse tussen departemente vir die 2025/2026-boekjaar. Altesaam 51 raadslede het ten gunste van die wetsontwerp gestem, nege daarteen, insluitend die EFF en die MK-party, en daar was niemand buite stemming nie. Intussen het die raad ook die Eskom-skuldverligtingswysigingswetsontwerp aanvaar, wat die finansiële vereistes vir die kragvoorsiening sal verminder. Beide wetsontwerpe sal na president Cyril Ramaphosa gestuur word vir goedkeuring.
# Die DA het die aanhouding van die streeksekretaris van die ANC in Tshwane, George Matjila op aanklage van aanranding verwelkom. Crezane Bosch van die DA sê die klagte spruit uit ‘n insident waarby ‘n ander ANC-lid betrokke was. Bosch het die gebrek aan optrede oor soortgelyke aanrandingsaantygings bevraagteken waarby ANC-woordvoerder, Joel Masilela en EFF-leier Obakeng Ramabodu betrokke was. Sy beklemtoon dat herhaalde gewelddadige optrede deur ANC- en EFF-leiers bewys dat hulle onbekwaam is om die hoofstad te regeer:
# Die Hamas-beheerde ministerie van Gesondheid sê nog sewe mense het aan hongersnood gesterf. Dit bring die sterftesyfer weens wanvoeding sedert Oktober 2023 op 154 te staan, waaronder 89 kinders. Israel is onder toenemende druk van die internasionale gemeenskap om sy blokkade te verbreek, hulp in Gaza toe te laat en die oorlog te beëindig. Meer as 20-duisend kinders is tussen April en middel Julie opgeneem vir behandeling vir wanvoeding, met meer as drie-duisend wat ernstig ondervoed is.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Springbokke, Rassie Erasmus sê nie een van die Junior Springbokke wat Wêreldrugby se Onder-20-kampioenskap gewen het, sal vanjaar vir die senior Bokke speel nie. Hy het die Bababokke Bathobele Hlekani, Cheswill Jooste en Haashim Pead na die nasionale oefenkamp in Johannesburg genooi, maar sê hy het dit gedoen want sy doelwit is om ‘n spelerbasis te bou wat bestaan uit ten minste drie spelers per posisie, en om jong spelers te betrek voor die volgende Wêreldbekertoernooi in Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-704-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-281-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….