Nuus 06:00
BULLETIN 9 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsdienskommissie sê integriteit is deurslaggewend in die stryd teen korrupsie
# Gautrein sê sy gebeurlikheidsplan is ten volle in werking te midde van die Numsa-staking
# En nog swaar reën en skadelike wind word vir Kaapstad voorspel
# Die Staatsdienskommissie sê integriteit is ‘n noodsaaklike wapen in die stryd teen korrupsie. Onlangse voorvalle by Suid-Afrikaanse hawens waar beamptes omkoopgeld geweier het, wys op die belangrikheid van etiese gedrag in die staatsdiens. Kommissaris, Anele Gxoyiya sê die kommissie wil die publiek se vertroue versterk en grondwetlike waardes voorop stel deur aanspreeklikheid en deursigtigheid in staatsbestuur en dienslewering te bevorder:
# Die Parlement gaan vandag verkiesings hou en begrotingsinligting ontvang. Die Nasionale Vergadering sal huisvoorsitters, verteenwoordigers vir verskeie parlementêre liggame asook lede van die Regterlike Dienskommissie verkies. Onder die Parlementslede wat benoem is om op die RDK te dien, is die MK-lid en die voormalige regterpresident van die Wes-Kaap, wat in ‘n staat van beskuldiging gestel is, John Hlophe. Die Nasionale Raad van Provinsies gaan sy adjunkvoorsitter en ander sleutelposte verkies. Albei kamers gaan departementele inligtingsessies oor begrotingstemme tydens hul hibriede sittings ontvang.
# Die Gautrein Bestuursagentskap sê die diens sal vandag steeds gelewer word. Gautrein-werknemers verbonde aan die metaalwerkersvakbond, Numsa, het oor lone begin staak. Die vakbond eis onder meer ‘n hersiene loonverhoging van nege-persent en ‘n behuisingstoelaag van twee-duisend-rand. Die agentskap se uitvoerende hoof, Tshepo Kgobe, sê hulle het hul gebeurlikheidsplan ingestel om te verseker pendelaars word nie deur die staking verontrief nie:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak ses-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën en skadelike golwe, wat vandag tot oorstromings en moontlike modderstortings in Kaapstad kan lei. ’n Reeks kouefronte gaan die provinsie hierdie week tref. Sonica Lategan van die stad se ramprisikobestuursentrum sê die voorspelling sal waarskynlik die uitwerking van die gure weer wat tot dusver ervaar is vererger:
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, het onderneem om wraak te neem nadat Russiese missiele ten minste 31 mense gedood en ‘n kinderhospitaal beskadig het. Kiëf se Okhmatdyt-hospitaal is Oekraïne se grootste mediese sentrum vir kinders. Die Russiese weermag het ontken hulle het burgerlike infrastruktuur geteiken en daarop aangedring dat die aanvalle op militêre fasiliteite gemik was. Zelensky sê Moskou kan nie onbewus wees van waar sy missiele land nie en moet ten volle verantwoordelik gehou word vir al sy misdade.
# Rugby: Die aanvalsafrigter van die Springbokke, Tony Brown, sê losskakel, Handré Pollard, het net wedstrydoefening nodig om sy skopritme te herwin. Dit volg nadat Pollard Saterdag onverwags drie skoppe pale toe verbrou het in die eerste toets teen Ierland in Pretoria. Brown sê Pollard het twee maande laas mededingend gespeel en hy is nie in die minste bekommerd oor die spelpeil van die puntemaker nie. Ten spyte van die af-dag vir Pollard, het die Bokke die Iere met 27-20 uitoorlê. Die laaste toets word eerskomende Saterdag in Durban beslis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-482-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….