Nuus 06:00
BULLETIN 3 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is goeie nuus vir motoriste met brandstofpryse wat vandag daal
# Die DA in Gauteng misluk om ‘n ooreenkoms met die ANC te bereik
# En ‘n voormalige Suid-Afrikaanse polisiebeampte, Peter Fouché sterf as ‘n Oekraïnse soldaat
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie het aangekondig dat die prys van 95-oktaan loodvrye petrol vandag met 99-sent per liter verlaag word en die van 93-oktaan met een-rand-vyf-sent. Die groothandelprys van diesel sal met tussen 24- en 30-sent per liter daal, afhangend van die swaelinhoud. Die prys van paraffien sal met 18-sent per liter daal. Dit is die tweede agtereenvolgende daling in brandstofpryse in drie maande. Die departement sê prysdalings kan toegeskryf word aan internasionale oliepryse en die rand/Amerikaanse dollar-wisselkoers.
# Die Vereniging van Staatsamptenare erken, met omsigtigheid, die nuwe Kabinet. Die vereniging se hoofbestuurder, Reuben Maleka, beklemtoon die behoefte aan etiese, bekwame leierskap om ekonomiese groei, werkskepping en armoedeverligting te bevorder. Maleka het kontinuïteit in sleutelportefeuljes soos Finansies geprys, maar het egter gewaarsku noodsaaklike dienstebegrotings kan oorskadu word as gevolg van die kabinet se grootte. Hy dring aan op duidelike beleidsrigting, doeltreffende burokratiese prosesse en respek vir arbeidsverhoudings om bestendige openbare dienslewering te verseker.
# Die DA sê hy kon nie daarin geslaag om ‘n ooreenkoms met die ANC in Gauteng te bereik nie. Premier Panyaza Lesufi sou Maandagaand sy nuwe kabinet aankondig, maar dit is uitgestel weens onderhandelinge oor posisies tussen die ANC en die DA wat ‘n dooiepunt bereik het. Die DA se federale voorsitter, Helen Zille, sê hulle is nie bereid om aan ‘n provinsiale regering van eenheid deel te neem waar die ANC steeds dink hy het ‘n meerderheid nie:
# ‘n Multidissiplinêre span onder aanvoering van die SAPD se teen-ontvoeringtaakspan het 12 sakepersone en ses studente gered wat die laaste ses maande vir ‘n losprys ontvoer is. Die jongste slagoffer is ‘n 49-jarige Portugese sakeman wat Maandag in Snake Park, Soweto, gered is. Die woordvoerder van die SAPD, Athlenda Mathe, het onthul die polisie het 49 ontvoerders aangekeer en op 21 voertuie en agt vuurwapens beslag gelê in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat:
# ‘n Voormalige Suid-Afrikaanse polisiebeampte en Britse paspoorthouer, Peter Fouché, is dood as soldaat vir Oekraïne. Volgens News24 was hy bekend vir sy wydverspreide video waarin hy die vertragings met militêre hulp vanuit die Weste skerp veroordeel en Suid-Afrika se verhouding met Rusland skerp gekritiseer het. Hy het as ‘n oorlogsparamedikus by die weermag van Oekraïne aangesluit en die liefdadigheidsorganisasie, Projek Konstantin, gestig ter ondersteuning van Oekraïne se pogings aan die frontlinie. Die regering van die Verenigde Koninkryk het sy dood bevestig en staan sy gesin by:
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Bafana Nhleko, het vyf veranderings aan sy opdrafspan gemaak vir môreaand se Wêreldrugby Onder 20-kampioenskapswedstryd teen Argentinië in Stellenbosch. Een van die veranderings aan die span wat Fidji vroeër verslaan het, is Jaco Grobbelaar wat sy debuut maak op slot. Nhleko het ses voorspelers en twee agterspelers op die bank gekies, want hy verwag ‘n verwoede aanslag van die jong Pumas se pak. Die stut Zachary Porthen sal die gasheerspan op die Danie Craven-stadion aanvoer, met afskoptyd 7-uur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-110-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….