Nuus 06:00
BULLETIN 1 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kondig ‘n nuwe Kabinet aan met John Steenhuisen as minister van Landbou
# Die president sê dit was nie moontlik om die Kabinet te verklein nie
# En ‘n peiling toon dat 72-persent van kiesers glo Biden moet nie as president verkiesbaar wees nie
# President Cyril Ramaphosa het sy nuwe Kabinet aangekondig, wat bestaan uit die elf politieke partye wat deel is van die regering van nasionale eenheid. Die adjunkpresident bly Paul Mashatile. Sommige sleutelaanstellings sluit in die DA-leier John Steenhuisen as die minister van Landbou, die Vryheidsfront Plus-leier Pieter Groenewald as die minister van Korrektiewe Dienste, en Enoch Godongwana wat aanbly as minister van Finansies. Terselfdertyd is Gayton Mackenzie, leier van die Patriotic Alliance, die minister van Sport, Kuns en Kultuur. Ramaphosa sê die kabinet gee uitvoering aan die kiesers se wil:
Ramaphosa sê voorts dit was nie moontlik om die aantal portefeuljes in die nasionale uitvoerende gesag te verminder nie. Hy sê dit is te wyte aan die behoefte om te verseker dat al die partye by die regering van nasionale eenheid ingesluit word. Ramaphosa sê in sommige gevalle was dit nodig om sekere portefeuljes te skei om te verseker dat daar voldoende fokus op sleutelkwessies is, insluitend die samesmelting van die ministeries van Elektrisiteit en Energie:
# Die onderwysvakbond Sadou se nasionale uitvoerende komitee sê die DA werk saam met die Weste om die rand te manipuleer, wat werkgeleenthede kelder. Sadou se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke sê hulle het diegene wat grond en rykdom die afgelope 30 jaar gesteel het, geakkommodeer, hopende dat wit Suid-Afrikaners maatskaplike samehorigheid en geregtigheid sou aanvaar. Hy voeg by die DA beskerm egter rykdom wat onregmatig verkry is:
# Die graderingsagentskap, Moody’s, het die Stad Kaapstad se kredietgradering van stabiel na positief aangepas en skryf dit toe aan die stad se volgehoue sterk en verbeterende bedryfs- en finansiële prestasie. Die agentskap sê die stad se proaktiewe benadering tot uitdagings om inkomste in te vorder en uitgawes te beheer, toon sterk regering en doeltreffende begrotingsbestuur. Moody’s glo Kaapstad se finansiële prestasie kan sy afhanklikheid van skuld vir sy beleggingsprogram van 49-miljard-rand verminder.
# ‘n CBS News-peiling toon dat 72-persent van geregistreerde Amerikaanse kiesers glo dat president Joe Biden nie in November verkiesbaar moet wees nie. Dit volg op sy optrede in verlede week se presidensiële debat teen Donald Trump. Kiesers wat genader is, is bekommerd oor Biden se ouderdom, besluite wat hy in die amp kan neem en sy vermoë om doeltreffend ‘n veldtog te voer. Slegs 27-persent glo Biden het die geestelike en kognitiewe gesondheid om as president te dien, vergeleke met 50-persent vir Trump.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt en Sune Luus het Suid-Afrika se terugvegpoging op die derde dag van die eenmalige toets teen Indië in Chennai gelei. Die besoekers is gedwing om op te volg nadat hulle in hul eerste beurt uit was op 266 nadat die tuisspan op 603 verklaar het. Luus het met 109 haar eerste toets-honderdtal aangeteken terwyl Wolvaardt die dag op ‘n onoorwonne 93 afgesluit het. Die Protea-vroue hervat vandag die vierde en laaste dag op 232 vir twee in die tweede beurt. Indië wat weer kolf, loop tans voor met 105 lopies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-133-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….