Nuus 06:00
BULLETIN 27 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan al sy strukture inlig oor die onderhandelinge oor ’n regering van nasionale eenheid
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku teen die vinnige verspreiding van a-pokke
# En rugby: Siya Kolisi word behou as Springbok-kaptein
# Ons begin met die volgende nuus wat ons pas ontvang het: Die Proteas is vir die eerste keer ooit deur na die T20-wêreldbeker-eindstryd nadat hulle Afghanistan met nege paaltjies verslaan het. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het bekendgemaak partystrukture sal hierdie naweek ingelig word oor besluite van die Nasionale Uitvoerende Komitee en onderhandelings oor die regering van nasionale eenheid. Provinsiale sekretarisse moet buitengewone streekvergaderings reël, elk met vyf verteenwoordigers per tak. Lede sal op hoogte gebring word en gedurende hierdie vergaderings leiding ontvang om te verseker daar is ooreenstemming en kommunikasie in alle partystrukture. Dit volg terwyl die tweede fase van die proses vir die regering van nasionale eenheid, om die Kabinet ooreenkomstig die Grondwet saam te stel, voortgesit word.
# Saftu bepleit gratis basiese elektrisiteit te midde van Eskom se voorgestelde elektrisiteitstariefverhoging van 36,15-persent vir volgende jaar. Die federasie is gekant teen die verhoging, soos uiteengesit in ‘n vertroulike konsepdokument aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika, wat ook daaropvolgende verhogings in 2026, 2027 en 2028 insluit. Mogoshadi Maserumule van Saftu sê hierdie verhogings, en die onlangse verhogings, hou ‘n ernstige finansiële las vir verbruikers in, veral die miljoene werkersklas-huishoudings:
# ActionSA het gister die Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Dwelmhandel gedenk en wys op die noodsaaklikheid om beslissend op te tree om die epidemie te beveg. Dit hoop om optrede en samewerking te versterk vir ‘n internasionale gemeenskap vry van dwelmmisbruik. ‘n Woordvoerder van ActionSA, Dereleen James beklemtoon verslawing is ‘n gesondheidskwessie. Sy vra dwelmsindikate moet vernietig word, grense moet versterk word en rehabilitasiesentra moet verbeter word om slagoffers by te staan:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku teen ‘n nuwe stam van die a-pokkevirus wat vinnig langs die oostelike grens van die Demokratiese Republiek die Kongo versprei. Die huidige uitbreking word vermoedelik seksueel oorgedra hoewel dit glo ook deur nabye kontak met aanraking van vel tot vel oorgedra kan word. Globale gesondheidskenners sê die nuwe variant kan oor grense heen internasionaal versprei. Een beskryf dit as die gevaarlikste stam nog. Minstens drie mense met a-pokke is in Suid-Afrika dood.
# Rugby: Die tweemalige Wêreldbeker-kaptein van die Springbokke, Siya Kolisi, behou die kapteinskap wanneer die wêreldkampioene aanstaande Saterdag in Pretoria na die veld terugkeer teen Ierland. Springbok-afrigter Rassie Erasmus bevestig Kolisi sal die span weer aanvoer wat ‘n einde bring aan bespiegeling dat hy vervang kan word deur ‘n Bok-kaptein wat plaaslik speel. Cheslin Kolbe is fiks verklaar en Edwill van der Merwe, Faf de Klerk en Makazole Mapimpi behoort ook voor die eerste toets teen Ierland van beserings te herstel. Die Bokke het Ierland nog nie sedert 2016 geklop nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-940-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-299-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte: Vanaf fone wat ‘n gedokterde video kan naspeur tot by outonome intelligente voertuie. Die ontwrigtende potensiaal van kunsmatige intelligensie is die fokus van die Mobiele-wêreldkongres in Sjanghai. Sommige van China se grootste ondernemings het op die konferensie hul nuutste produkte en visies vir ‘n KI-gedrewe toekoms ten toon gestel. Die slimtoestelvervaardiger, Honor, het tegnologie onthul wat volgens hom bedrogspul-oproepe kan uitken en die eienaar van die foon intyds waarsku. Daar is in Februarie onthul ‘n Hongkongse werker in finansies het miljoene dollar oorgeplaas na bedrieërs wat op ‘n video-oproep hulself as sy kollegas voorgedoen het met behulp van KI.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….