Nuus 06:00
BULLETIN 26 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie bevestig geen party in die regering van nasionale eenheid sal beleid verander nie
# Zizi Kodwa wat van korrupsie beskuldig word, keer terug na die Parlement, ten spyte van die opsystaanreël
# En daar was nog drie positiewe A-pokke-gevalle in Suid-Afrika en een sterfgeval
# Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, benadruk dat geen enkele party van die regering van nasionale eenheid eensydig ooreenkomstig hulle manifeste beleid sal verander nie. Daar is tien partye in die regering van nasionale eenheid en president Cyril Ramaphosa moet nog sy kabinet aankondig. Magwenya het aan Newzroom Afrika gesê daar is ten opsigte van die Verklaring van Voorneme geen onduidelikheid oor beleid nie wat strook met die Grondwet en kollektiewe besluitneming oor beleid, wetgewing en regulasies:
ActionSA het instussen sy verbintenis bevestig om ‘n opbouende opposisie vir die ANC te wees. Albei partye het in ‘n vergadering Suid-Afrika se bestuur ná die 2024-verkiesing bespreek. ActionSA het die ANC se posisie as die grootste party en die belangrikheid van bestendigheid erken, maar het besluit om nie by die regering van nasionale eenheid aan te sluit nie. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê die party beplan om verdienstelike voorstelle te ondersteun en aanspreeklikheid te handhaaf as ‘n standvastige opposisieparty, om te verseker Suid-Afrikaners se beste belange word gedien.
# Die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, wat bedank het nadat hy van korrupsie aangekla is, ontken steeds skuld met sy terugkeer na die parlement as LP. Hy was onder verskeie LP’s wat gister ingesweer is nadat hy die eerste beëdigingsessie vroeër vandeesmaand misgeloop het. Kodwa is in hegtenis geneem en het vroeër in die Palm Ridge-landdroshof verskyn in verband met bewerings dat hy omkoopgeld van 1,6-miljoen-rand ontvang het. Cosatu-woordvoerder, Matthew Parks, sê dit is ‘n ondeurdagte besluit deur die ANC en ondermyn sy opsystaanresolusie vir openbare verteenwoordigers.
# Die nuwe A-pokke-stam Clade 1b wat blykbaar makliker van persoon tot persoon versprei, het erger simptome en ‘n hoër sterftesyfer. Navorsers in die Demokratiese Republiek die Kongo waarsku dit kan wêreldwyd versprei. Die stam is die eerste keer in September aangemeld onder sekswerkers in die myndorp Kamituga, sowat 273 kilometer van die grens met Rwanda. Daar is nou reeds ongeveer eenduisend bevestigde gevalle in die land se Suid-Kivu-provinsie aangemeld. Die Wêreldgesondheidsorganisasie en ander wêreldwye gesondheidsliggame beplan ‘n noodinentingsveldtog in Suid-Kivu.
Die Departement van Gesondheid het intussen bevestig dat nog drie positiewe gevalle van A-pokke en een sterfte in Suid-Afrika aangeteken is. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die jongste gevalle sluit in ‘n 40-jarige man van Ladysmith in KwaZulu-Natal wat simptome van A-pokke getoon het. Mohale sê die man is by die huis dood en toetsuitslae het Sondag A-pokke bevestig:
# Tennis: Emma Raducanu het Sloane Stephens met 6-4, 6-0 getroef en gister deurgedring na die tweede ronde van die Eastbourne International. Beide is voormalige Amerikaanse Ope-kampioene. Raducanu, wat die Amerikaanse Ope in 2021 as ‘n kwalifiseerder gewen het, het ná verskeie beserings in 2023 tot 168ste in die wêreld teruggesak. Die 21-jarige het die Franse Ope misgeloop, maar het vroeër die maand teruggekeer na die Nottingham Ope-grasbaantoernooi, waar sy die halfeindronde gehaal het. Raducanu het ’n uitnodiging ontvang na Wimbledon, wat op 1 Julie begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-882-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….