Nuus 06:00
BULLETIN 25 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vakbondfederasie Saftu kritiseer die teenwoordigheid van apartheidsimpatiseerders in die Parlement
# ‘n Werker word deur ‘n leeuwyfie verskeur op ‘n Vrystaatse wildplaas
# En Brittanje se prinses Anne is in die hospitaal met harsingskudding
# Saftu kritiseer die teenwoordigheid van simpatiseerders met apartheid in die Parlement en verwys na onlangse opmerkings van die DA-LP, Renaldo Gouws. Die vakbondfederasie veroordeel rassistiese stellings en steun die saak van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie teen Gouws om haatspraak aan te spreek. ‘n Woordvoerder van Saftu, Mogoshadi Maserumule, versoek die Parlement om Gouws te skors om grondwetlike waardes te handhaaf en rassisme uit te skakel in post-apartheid Suid-Afrika:
Die African Transformation Movement beweer intussen daar gaan beleidsverwarring wees in die regering van nasionale eenheid. Die leier, Vuyo Zungula, voer aan die regering van nasionale eenheid is nie beginselvas saamgestel nie. Zungula het met Newzroom Afrika gepraat en gewaarsku partye in die regering van nasionale eenheid kan gedwing word om hul standpunt te verander oor beleid wat hulle voorheen teengestaan het, insluitend die Phala Phala-skandaal en die Nasionale Gesondheidsversekering:
# Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het die naweek ‘n sekerheidsbreuk gehad met die gevolg dat die bedieners en databerging ontoeganklik was en gestoorde data uitgevee is. Die laboratorium se webwerf was ook af. Die uitvoerende hoof, professor Koleka Mlisana sê ‘n ondersoek is aan die gang om die omvang te bepaal. Mlisana sê haar personeel sal al die diagnostiese monsters wat deur die laboratoriums ontvang word, per hand verwerk en die resultate telefonies kommunikeer indien dringend. Die res sal uitgedruk en aan gesondheidsorgfasiliteite en kliniese personeel versprei word.
# ‘n Wildplaaswerker is Sondag deur ‘n leeuwyfie doodgemaak terwyl hy ‘n heining reggemaak en ‘n hek ingesit het. ‘n Vrystaatse polisiewoordvoerder, Lorraine Earle, sê die 43-jarige slagoffer is aangeval nadat sy toesighouer hom te laat gewaarsku het. Die werker is dood weens veelvuldige bytplekke, waarna die DBV die leeuwyfie vankant gemaak het. Earle sê die Glen-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen vir verdere ondersoek.
# Prinses Anne van Brittanje het geringe beserings en harsingskudding opgedoen ná ‘n voorval op die Gatcombepark-landgoed. Buckingham-paleis sê die 73-jarige prinses sal na verwagting vinnig en ten volle herstel, maar sal in die hospitaal bly totdat haar mediese span anders besluit. Die oorsaak van haar besering is nie bevestig nie, maar die BBC sê dit stem ooreen met die moontlike impak van ‘n perd se kop of bene. Anne se afsprake vir die week is uitgestel.
# Krieket: Die Indiese kaptein, Rohit Sharma het gister die leiding geneem met ‘n blitsige 92 om Australië in St Lucia met 24 lopies te klop en Indië se plek in die halfeindronde van die T20 Wêreldbeker te beklink. Sharma se puik beurt het sewe viere en agt sesse van net 41 balle ingesluit en was die hoeksteen vir ‘n totaal van 205 vir vyf. Australië het op 181 vir sewe geëindig, met Arshdeep Singh wat met 3 vir 37 gewen het. Indië sal nou teen die verdedigende kampioen, Engeland, in Donderdag se halfeindstryd in Guyana te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-387-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….