Nuus 06:00
BULLETIN 19 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskeie hooggeplaastes gaan vandag president Ramaphosa se inhuldigingseremonie bywoon
# Die krag en water na die Gupta-herehuis in Saxonwold word afgesny
# En krieket: Die Proteas skop die Super Agt-fase van T20 Wêreldbeker af teen die VSA
# Agtien Staats- en Regeringshoofde, drie voormalige Staatshoofde en nege hoofde van afvaardigings is bevestig om vandag die inhuldiging van president Cyril Ramaphosa by die Uniegebou in Pretoria by te woon. Nasies wat verteenwoordig word, sluit in eSwatini, Lesotho, Zimbabwe, Mosambiek, Namibië, Angola, Tanzanië, Uganda, China, Egipte, Palestina en Kuba. Verteenwoordigers van Sadek, die Afrika-unie en die Verenigde Nasies sal dit ook bywoon. Die geleentheid se tema is – 30-jaar van demokrasie, vennootskap en groei.
Hoofregter Raymond Zondo sal intussen vandag Ramaphosa se ampseed afneem in die Nelson Mandela-amfiteater. Die verrigtinge sal seremoniële elemente deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag bevat, insluitend ‘n 21-skoot saluut en die lugmag sal op ‘n lae hoogte oorvlieg voordat Ramaphosa sy intreerede lewer.
# Die Mededingingskommissie sê sy ondersoek na Simba, ‘n filiaal van PepsiCo, het kommer laat ontstaan oor sy praktyke wat met plantkwekers se regte verband hou. Die ondersoek dui daarop dat Simba dalk strategies die gebruik van sekere plantvariëteite staak voor hul beplande vervaldatum en dit met nuwe ten volle beskermde variëteite vervang. In ‘n media-inligtingsessie sê die voorsitter van die kommissie se varsproduktemark-ondersoek, Hardin Ratshisusu, dié strategie kan toegang tot genetiese materiaal beperk, wat moontlik billike mededinging kan belemmer:
# Die Stad Johannesburg het bevestig hy het die krag- en watertoevoer na die Saxonwold-herehuis wat voorheen deur die omstrede Guptas besit was, afgesny. Dienste is verlede week gestaak, en stadsamptenare het die eiendom gister weer ondersoek vir onwettige verbindings. Die Stad het opgetree weens onbetaalde rekenings. Die Gupta-kompleks, wat meer as 20-miljoen-rand werd is, is berug vir sy politieke byeenkomste tydens Jacob Zuma se presidentskap. Die stad waarsku ander wanbetalende gemeenskappe oor soortgelyke optrede.
# Die senaat in Thailand het die Wetsontwerp op Huweliksgelykheid goedgekeur, die eerste land in Suidoos-Asië wat selfdegeslag-huwelike goedkeur. Die hoërhuis het die maatreël goedgekeur met 130 stemme ten gunste daarvan, vier daarteen en 18 buite stemming. Die wetsontwerp moet nou deur koning Maha Vajiralongkorn goedgekeur word. Dit sal 120 dae na publikasie in die koninklike staatskoerant in werking tree. Die LGBTQ-aktivis en aanbieder op televisie in Thailand, Woody Milintachinda, beskryf dit as ’n reusestap vorentoe:
# Krieket: Die Proteas en Amerika skop die Super Agt-fase van die T20-Wêreldbeker in Antigua vanmiddag af. Suid-Afrika het met een lopie teen Nepal in hulle vorige wedstryd gewen. Met spanne soos die verdedigende kampioen, Engeland en die gasheerspan van Wes-Indië ook in Groep 2, kan die Proteas dit kwalik bekostig om teen die Amerikaners te laat slap lê. Hulle sal die Super Agt op ‘n wen-noot moet begin. Engeland kom vanaand in die tweede wedstryd teen die Windies in Saint Lucia te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-315-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….