Nuus 06:00
BULLETIN 18 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Herman Mashaba sê ActionSA sal nie skroom om die ANC-DA-regering van nasionale eenheid verantwoordbaar te hou nie
# Raymond Parsons sê die regering van nasionale eenheid kan Suid-Afrika se ekonomie bevoordeel
# En Benjamin Netanyahu ontbind Israel se oorlogskabinet
# Die president van ActionSA Herman Mashaba sê hulle sal die ANC-DA-regering van nasionale eenheid aanspreeklik hou vir die bereiking van maatskaplike geregtigheid en die skep van geleenthede vir mense. Mashaba sê ActionSA sal sy posisie op wetgewende platforms gebruik om sy beleid te bevorder, waaronder werkskepping, ‘n geleentheidsfonds om die nalatenskap van apartheid teen te werk en sodat geen belowende student tersiêre onderwys ontsê word nie:
# Professor Raymond Parsons van die Universiteit van Noordwes se sakeskool sê die regering van nasionale eenheid se beleidsuitkyk sal waarskynlik Suid-Afrika meer beleggersvriendelik maak. Parsons sê ‘n regering van nasionale eenheid kan ook samewerking ontwikkel tussen die regering en sakeondernemings op die gebied van energiesekerheid, logistiek en die hantering van misdaad en korrupsie. Hy sê daar moet versigtige optimisme wees, maar as die regering sy kaarte reg speel, kan dit ‘n groter, sterker en beter ekonomie vir die land meebring.
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid is bekommerd dat jongmense nie ‘n groot genoeg rol speel in die hoofstroom-ekonomie nie. Die woordvoerder Javu Baloyi vra jongmense om te verenig agter die gesamentlike doelwit om ‘n beter toekoms vir almal te verseker, waar geslagsgelykheid, billikheid en maatskaplike geregtigheid seëvier:
# Die EFF-leier Julius Malema verskyn vandag in die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap. Dit hou verband met aanklagte dat hy na bewering in 2018 ‘n vuurwapen afgevuur het by die EFF se vyfde herdenkingsvierings in die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane. Malema is aangekla van die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer na die afvuur van ‘n geweer op ‘n openbare plek.
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu het sy oorlogskabinet van ses lede ontbind. Dit volg op die onttrekking van sy bondgenoot Gadi Eisenkot en die sentristiese opposisieleier Benny Gantz. Israelse media berig dat kwessies oor die oorlog met Hamas in Gaza nou deur ‘n kleiner forum beslis sal word. Die oorlogskabinet is saamgestel vyf dae ná die Hamas-aanvalle op 7 Oktober, waartydens een-duisend-200 mense dood en 251 gyselaar geneem is. Meer as 37-duisend mense is sedertdien in Gaza dood.
# Tennis: Die Franse Ope-kampioen, Carlos Alcaraz, het sy visier op nog grasbaan-suksesse ná sy eerste titel op klei by Roland Garros. Die 21-jarige het met sy oorwinning van vyf stelle oor Alexander Zverev Sondag in Parys, die jongste manspeler geword om Major-titels op al drie oppervlaktes te wen. Hy is die verdedigende kampioen by Wimbledon en het sy oog op verlede jaar se dubbelsege by Queen’s Club en die grasbaan Grand Slam. Alcaraz begin vandag sy Queen’s Club-veldtog teen Argentinië se Francisco Cerundolo.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-823-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-323-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….