Nuus 06:00
BULLETIN 14 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC het met sowat 17 partye gepraat
# Die verlaging in die rentekoers volg moontlik later as wat voorspel is
# En tennis: Die Wimbledon-enkelspelkampioene sal meer as 63-miljoen-rand in hul sakke steek
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê hulle gaan nie die konsep van ‘n regering van nasionale eenheid laat vaar nie, aangesien dit die uitslag van die verkiesing weerspieël. Hy het die media gisteraand ná die party se nasionale uitvoerende komitee se spesiale vergadering in Kaapstad ingelig. Dit is voor die eerste sitting van die Nasionale Vergadering vandag. Mbalula sê hulle het met sowat 17 politieke partye gepraat, maar is nog nie by magte om besonderhede van die onderhandelinge te gee nie:
Mbalula sê ook dit is nie ‘n tyd vir arrogansie en vloermoere [woedebuie] met die vorming van die regering van nasionale eenheid nie. Mbalula sê volgens die ANC, weerspieël die regering van nasionale eenheid die uitslag van die verkiesing en hulle is in geen posisie om alleen te regeer nie. Hy sê nasionale dialoog en politieke besinning is nodig:
# Ekonome verwag nou Suid Afrika se rentekoersverlagingsiklus sal in November begin, later as die voorheen verwagte datums van Maart en September, Volgens BusinessTech het volgehoue inflasie die verwagte verlagings teruggeskuif. Dit het in April op 5,2-persent gestaan, bokant die Reserwebankteiken van 4,5-persent. Die eerste rentekoersverlaging word in November verwag en sal waarskynlik 25-basispunte beloop. Die vertraging dui op versigtige ekonomiese strategieë te midde van wêreldwye onsekerheid, wat vererger word deur die onlangse besluit van Amerika se Federale Reserweraad om rentekoerse onveranderd te laat.
# Johannesburg doen ‘n beroep op sy inwoners om gehoor te gee aan oproepe om kragverbruik te verminder om ‘n stabiele kragtoevoer te verseker en ‘n totale ineenstorting van die plaaslike netwerk te vermy. City Power pas tans ladingsvermindering toe as ‘n tydelike maatreël om die oorlading van die kragstelsel tydens spitstyd te voorkom. Die stad se woordvoerder, Virgil James, sê City Power het ‘n beduidende toename in verbruik in sommige gebiede aangeteken, waar dit met tot 65-persent gestyg het in vergelyking met somermaande:
# Die Indiese regering het bevestig minstens 40 van sy burgers is gister dood in ‘n brand in ‘n gebou in ‘n woongebied in Koeweit. Minstens nog tien mense is dood en talle beseer in die gebou in Mangaf wat byna 200 buitelandse werkers gehuisves het. Plaaslike media sê die gebou was moontlik oorvol. BBC News berig twee-derdes van Koeweit se bevolking is buitelandse werkers aangesien die Midde-Oosterse land hoogs afhanklik is van migrerende arbeiders. Menseregtegroepe spreek gereeld kommer uit oor die arbeiders se lewensomstandighede.
# Tennis: Wimbledon het bekendgemaak die prysgeld styg tot 1,173-miljard-rand, met die enkelspelkampioene wat elk net minder as 63,4-miljoen-rand in die sak sal steek. Die organiseerders het die prysgeld vir die rolstoeltoernooi ook met 35-persent tot 23,5-miljoen-rand verhoog. Die voorsitter van die All England-klub in Londen, Debbie Jevans, sê hulle winste word in die spel teruggeploeg maar hulle gee ook baie aan die spelers terug. Wimbledon begin op die eerste van volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-701-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-305-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….