Nuus 06:00
BULLETIN 12 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC wil ‘n regering vorm wat nasionale eenheid en bestendigheid verseker
# Solidariteit doen ‘n beroep op politieke partye om Nasionale Gesondheidsversekering in hul samesprekings te verwerp
# En Hunter Biden word skuldig bevind op al drie aanklagte in sy federale wapensaak
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle het met alle politieke partye vergader wat graag bydraes wou lewer oor hoe die land gesamentlik vorentoe kan beweeg om ‘n regering te vorm. Partye is nou haastig om die bepalings van die regering van nasionale eenheid af te handel voor die Nasionale Vergadering se sitting Vrydag. Mbalula sê hulle moet ’n regering vorm wat nasionale eenheid en bestendigheid verseker, die transformasie van Suid-Afrika voortsit en die grondwetlike demokrasie beskerm.
# Die Vakbond Solidariteit het politieke partye wat betrokke is by samesprekings vir ‘n regering van nasionale eenheid, versoek om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering teen te staan. Die oproep volg te midde van president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy die vakbond se hofaansoek teen die NGV gaan teenstaan. Anton van der Bijl van Solidariteit voer aan die NGV is ongrondwetlik, onbekostigbaar en sal toegang tot gehalte gesondheidsorg verminder. Van der Bijl beloof om die NGV in die hoogste hof uit te daag:
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sal na verwagting vandag in Pretoria ‘n nuuskonferensie hou oor die a-pokke-uitbreking. Dit volg nadat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes twee nuwe gevalle in Durban, KwaZulu-Natal, bevestig het, wat verband hou met ‘n voorheen-bevestigde geval en plaaslike verspreiding aandui. Woordvoerder, Foster Mohale, sê gesondheidskenners van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die Wêreldgesondheidsorganisasie sal by die minister aansluit:
# ActionSA het sy Gautengse voorsitter, Funzi Ngobeni, aangestel om as die koukusleier in die wetgewer te dien. Ngobeni, wat uitgebreide ondervinding het in plaaslike regering en verskeie munisipale komitees, sal opposisiepogings lei, onder leiding van die party se president, Herman Mashaba. ActionSA beloof om kritieke kwessies soos gesondheidsorg, onderwys en korrupsie aan te spreek. Die party beloof om ‘n konstruktiewe opposisie te wees, wat voordelige voorstelle ondersteun en nadelige voorstelle verwerp, veral in ‘n politieke landskap waar opposisiepartye saam met die ANC in die rigting van mede-regering beweeg.
# ‘n Federale jurie het Hunter Biden skuldig bevind op al drie aanklagte in sy federale wapensaak in Delaware. Die jurie van 12 het bevind die Amerikaanse president Joe Biden se seun het op ‘n vorm gelieg oor sy dwelmgebruik toe hy in 2018 ‘n handwapen gekoop het. Biden kan tot 25 jaar tronkstraf opgelê word, hoewel dit ongewoon sal wees want hy is ‘n eerste oortreder. Dit is die eerste keer dat die kind van ‘n sittende president aan ‘n misdaad skuldig bevind word.
# Rugby: Die Springbokke is besig met ‘n oefenkamp in Pretoria voor hulle eerste toets van die seisoen aanstaande Saterdag teen Wallis op Twickenham in Londen. Die wedstryd val buite die internasionale venster en klubs is nie verplig om hulle internasionale spelers te verskoon nie. Spelers in Europa, Engeland en Ierland is dus nie beskikbaar nie. Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sê dit bied ‘n goeie geleentheid om diepte in die groep te bou:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-144-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-311-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….