Nuus 06:00
BULLETIN 13 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof verwerp die African Transformation Movement se Phala Phala-appèl
# Die polisie se lyfkameras kan onbepaald uitgestel word
# En rugby: Babalwa Latsha keer terug om die Springbok-vroue teen Fidji te lei
# Die Konstitusionele Hof het die African Transformation Movement en sy LP Vuyo Zungula verlof geweier om te appelleer teen ‘n uitspraak wat openbare verhore oor president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-ampsklagondersoek gestaak het. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het verlede maand ‘n interdik aan Ramaphosa toegestaan, wat die ampsklagkomitee verhinder om verhore te hou terwyl sy hersieningsaansoek oorweeg word. Die Konstitusionele Hof sê die uitslag van daardie hersiening kan die tussentydse interdik ontoepaslik maak. Die uitspraak beteken die openbare verhore bly opgeskort hangende die afhandeling van Ramaphosa se regsgeding.
# President Cyril Ramaphosa sê die nuwe elektroniese reismagtigingstelsel sal toerisme, handel en belegging ‘n hupstoot gee deur reis na Suid-Afrika vinniger en makliker te maak. Ramaphosa het tydens die bekendstelling van die digitale stelsel by OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng gesê kwalifiserende reisigers sal aanlyn kan aansoek doen voordat hulle in die land aankom, wat vertragings sal verminder en doeltreffendheid sal verbeter. Hy sê die stelsel sal ook grenssekuriteit versterk terwyl dit ekonomiese groei en werkskepping ondersteun:
Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê intussen die nuwe elektroniese reismagtigingstelsel sal reis makliker maak terwyl dit grenssekuriteit verbeter. Schreiber het tydens die bekendstelling gesê die digitale platform gebruik biometriese tegnologie en outomatiese risikokontroles om reisaansoeke binne 24 uur te verwerk. Hy het gesê die stelsel het reeds meer as 216-duisend aansoeke verwerk en meer as ses-duisend vervalste aansoeke tydens die implementeringsfase verwerp:
# Die DA sê die nasionale bekendstelling van polisie-lyfkameras het tot stilstand gekom nadat die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, bevestig het daar is geen tydlyn vir die bekendstelling van die kameras nie. In ‘n skriftelike parlementêre antwoord het Cachalia gesê die projek is steeds in die verkrygingsfase, en ‘n bekendstellingsplan sal eers afgehandel word sodra ‘n diensverskaffer aangestel is. Mzamo Billy van die DA sê die vertraging belemmer polisie-aanspreeklikheid en deursigtigheid te midde van groeiende kommer oor korrupsie en magsmisbruik.
# Die Internasionale Energie-agentskap het gewaarsku dat die wêreld se olievoorraad vanjaar verder sal daal as wat voorheen verwag is, as gevolg van die sluiting van die Straat van Hormoes. Die belangrike waterweg is deur Iran gesluit sedert die VSA-Israelse oorlog met Teheran einde Februarie uitgebreek het. Die agentskap sê die wêreldwye olievoorraad sal vanjaar met 4,3-miljoen vate per dag daal. Dit is meer as die vermindering van 3,7-miljoen vate per dag wat in die agentskap se Julie-verslag voorspel is.
# Rugby: Babalwa Latsha keer terug om die Springbok-vrouespan te lei in hul tweede toetswedstryd teen die Fijiana-Vyftiental Saterdag in Lautoka. Maria Tshiremba maak haar Springbok-debuut op vleuel vir Suid-Afrika op Churchill Park. Latsha het verlede naweek se 55-12 oorwinning oor hul gashere in Suva misgeloop. Die Suid-Afrikaanse kaptein sal as vaskopstut opdraf in die plek van Nombuyekezo Mdliki, wat na die bank terugkeer. Daar is vier veranderinge aan die agterlyn en twee aan die voorspelers vir die tweede toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-412-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-400-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….