Nuus 06:00
BULLETIN 29 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wil hê hoëprofiel-staatskapingvervolgings moet bespoedig word
# Floyd Shivambu sê die MK-party is Zuma se familie-stokvel
# En die Brandstofbedryfvereniging waarsku oor ‘n dreigende stralerbrandstof-krisis
# President Cyril Ramaphosa sê hoewel aansienlike vordering gemaak is met die toepassing van die aanbevelings van die Staatskapingskommissie, duur die werk voort. Die Presidensie het die jongste vorderingsverslag oor die kommissie vrygestel, wat die tydperk tot die einde van 2024/2025 dek. Ramaphosa sê daar is sleutelprioriteite waarop die regering vanjaar sal fokus. Dit sluit in dat hoëprofiel-sake bespoedig word en nuwe sake voor die hof gebring word. Dit sluit in die afhandeling van die Wet op die Beskerming van Fluitjieblasers, en van voorstelle vir teen-korrupsie-argitektuur.
# Die voormalige sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu, het oud-president Jacob Zuma beskuldig dat hy die party in ‘n familie-stokvel verander het, en beweer partyfondse word vir persoonlike gewin misbruik. Shivambu beklee geen leierskapposisies nie en is van die party se parlementêre lys verwyder, al is hy steeds ‘n lid van die MK-party. Hy is nou die leier van die Mayibuye Consultative Process, en het hierdie naweek in Mpumalanga gesê politieke bewegings moet kollektiewe belange verteenwoordig en nie familie- of stamgebaseerde agendas volg nie:
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie van Ondersoek, regter Mbuyiseli Madlanga, sê pogings om ‘n perseel en infrastruktuur te bekom vir verhore oor die KZN-polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se korrupsiebewerings is tans aan die gang. Madlanga verseker die publiek dit sal nie die vordering vertraag nie, aangesien daar reeds met voorbereidings begin is. Die aantal getuies en die volledige tydlyn is nog nie aangekondig nie. Madlanga sê dis belangrik om getuies te beskerm en sê ‘n voorlopige verslag word binne drie maande verwag:
# Die Brandstofbedryfvereniging van Suid-Afrika waarsku oor ‘n verdere stralerbrandstoftekort teen Oktober indien dringende regulatoriese hervormings nie aangebring word nie. Die vereniging se uitvoerende hoof, Avhapfani Tshifularo, het aan Engineering News gesê die beplande sluiting van die Nasionale Petroleum-raffineerders van Suid-Afrika se raffinaderye en verouderde doeanewette kan die voorsiening van stralerbrandstof na die OR Tambo Internasionale Lughawe en streeksnetwerke ernstig beïnvloed. Hy vra tussentydse maatreëls om invoer- en uitvoerbeperkings te verlig, en waarsku brandstofnoodgevalle kan vlugte beïnvloed en ekonomiese bestendigheid in Suid-Afrika en sy buurlande bedreig.
# Die Israelse premier Benjamin Netanyahu hou vol daar is geen hongersnood in Gaza nie. Altesaam 47 mense het volgens berigte sedert die begin van die konflik in Gaza aan wanvoeding gesterf. Meer as duisend mense is sedert Mei dood in desperate pogings om kos vir hul gesinne te bekom. Die Israelse weermag sê dis die VN se skuld wat versuim om die hulp wat die gebied bereik, in te samel en te versprei. Netanyahu sê sy land is daartoe verbind om sy oorlogsdoelwitte te bereik:
# Padwedlope: Die nuwe raad van die Twee Oseane-marathon gaan met Stad Kaapstad vergader om hulle verskille uit die weg te ruim. Die organiseerders het vanjaar meer as die voorgeskrewe aantal deelnemers vir die half-marathon toegelaat in stryd met die permit, waarop die metro sy steun en borgskap onttrek het. Die stadsraad het ook gedreig om ‘n permit vir volgende jaar se wedloop te weier tensy daar groot veranderinge kom. ‘n Nuwe raadslid, Stuart Mann, sê Vrydag se vergadering is die eerste stap om die stadsraad se vertroue te herwin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-176-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-312-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….