Nuus 06:00
BULLETIN 6 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC-lede betoog vandag teen ‘n moontlike DA-koalisie
# Die regering oorweeg ‘n ramptoestand in die Oos-Kaap
# En rugby: Nizaam Carr bly tot 2027 by die Bulle
# Bekommerde ANC-lede sal vandag betoog teen ‘n moontlike koalisie met die DA. Hulle sal buite die vergaderinglokaall van die Nasionale Uitvoerende Komitee in Parktown, Johannesburg, vergader en die komitee versoek om die koalisie te verwerp. Betogers voer aan 80-persent van die kiesers het die DA in die verkiesing verwerp weens sy regressiewe beleid. Hul versetoptrede bepleit geregtigheid en transformasie. Die regerende party, wat die meerderheid stemme verloor het en net 40,2-persent behaal het, verkeer onder druk om ‘n koalisieregering met opposisiepartye te vorm.
Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê intussen hy verwerp ook enige gedagte aan ‘n ANC-DA-koalisie. Die SAKP verwerp koalisie-ooreenkomste met anti-werker, neo-liberale, en korrupte staatskapingsnetwerke. Die algemene sekretaris Solly Mapaila het op ‘n nuuskonferensie kommer uitgespreek oor staatskaping en faksie-optrede, en bepleit koalisie-reëlings wat die DA uitsluit. Mapaila kritiseer die MK-party vir sy negatiewe uitwerking op die ANC-regering en sy verkiesingsprestasie:
# Die regering besluit tans of ‘n ramptoestand in die Oos-Kaap afgekondig moet word ná die dodelike oorstromings as gevolg van swaar neerslae. Minstens tien mense is dood, terwyl meer as 500 dakloos gelaat is. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thembi Nkadimeng, en die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, het gister die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit besoek. Nkadimeng sê spanne beoordeel tans die omvang van die skade:
# Die Vryheidsfront Plus het die Stad Tshwane se begroting vir 2024/2025 verwelkom en gesê hy het baie insette gelewer. Die bedryfsbegroting is 48,3-miljard-rand. Awie Erasmus van die VF Plus sê hulle is veral tevrede met verskeie toekennings in die begroting, insluitend 177-miljoen-rand vir die instandhouding van die elektrisiteitsnetwerk, en kredietbeheer ten bedrae van 91,9-miljoen-rand. Hy voeg by dat die begroting daarop fokus om die metro se finansiële bestendigheid en die verskaffing van noodsaaklike dienste aan inwoners te verseker:
# Die Israel-Hamas-oorlog, wat in Gaza woed sedert die Palestynse militante groep se aanval op 7 Oktober, het wêreldwye druk laat herleef vir Palestyne om hul eie staat te kry. Slowenië het Dinsdag die jongste land geword wat Palestina erken het, en die jarelange siening van Westerse moondhede verbreek oor Palestyne wat slegs staatskap kan verkry as deel van vredesonderhandelings met Israel. Hy volg dieselfde stap as wat verlede week deur Spanje, Ierland en Noorweë gedoen is. Dit beteken 146 uit die 193 VN-lidlande erken nou ‘n Palestynse staat.
# Rugby: Nizaam Carr het sy kontrak met die Bulle verleng tot 2027. Die oud-Springbok-losvoorspeler het 54 wedstryde vir die unie gespeel in twee tydperke sedert 2020. Die 33-jarige Carr sê die Bulle het sy familie geword. Hy is in Kaapstad gebore maar sê een van die hoogtepunte van sy tyd op Loftus was toe hulle onlangs die Stormers in ‘n volgepakte stadion geklop het in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd. Hy hoop om te help om ‘n paar trofeë oor die volgende drie jaar huis toe te bring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-975-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-357-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….