Nuus 06:00
BULLETIN 5 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwerp bewerings van onenigheid in sy Nasionale Uitvoerende Komitee
# Die oorstromings in KwaZulu-Natal eis die lewens van 11 mense met meer as 100 dakloos gelaat
# En drie voormalige medewerkers van Trump word van verkiesingsknoeiery aangekla
# Die ANC het vals inligting en bewerings van onenigheid binne sy Nasionale Uitvoerende Komitee ten sterkste ontken. Die party bevestig die NUK vergader dié week om te besluit oor die samestelling van ‘n regering. Onderhandelings is reeds aan die gang met verskeie groepe en politieke partye om nasionale eenheid te verseker. Die ANC sê sy NUK is verenig en gefokus om die mandaat uit te voer wat die mense hom gegee het om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter. Die party vra die publiek om op amptelike kommunikasie te vertrou vir akkurate inligting.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê intussen koalisieregerings sal waarskynlik die norm word in Suid-Afrika en uitdagings sowel as geleenthede meebring. Die organisasie sê hoewel die onsekerheid mense kan ontstel, bevorder koalisies deursigtigheid en aanspreeklikheid namate partye saamwerk en ooreenkomste vir doeltreffende bestuur bereik. Dit het ten doel om te verseker openbare fondse word verantwoordelik gebruik en korrupsie word uitgeroei. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, sê ministers wat swak presteer moet verwyder word:
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het ingestem om ‘n boete van 5,4-miljoen-rand aan die Amerikaanse lugvaartowerhede te betaal vir vertraagde terugbetalings op ongebruikte kaartjies tydens die Covid-19-pandemie. News24 berig die skikking met die Amerikaanse Departement van Vervoer se kantoor vir Verbruikersbeskerming het ten doel om uitgerekte litigasie te vermy. Die lugredery het aangevoer hy het buitengewone stappe gedoen om terugbetalings van 2019 tot 2022 te verwerk en tussen April 2021 en Maart verlede jaar sowat 2,2-miljard-rand aan terugbetalings spandeer. Die SAL probeer verhoudings met Amerikaanse kliënte normaliseer en vlugte na Amerika hervat.
# Die KwaZulu-Natalse regering het bevestig elf mense, insluitend ‘n 16 maande oue kleuter, is dood in die verwoestende oorstromings wat dele van die provinsie sedert Maandagaand getref het. Die swaar reën met gepaardgaande sterk wind, het verwoesting gesaai in vyf distrikte, insluitend die eThekwini-metro, en Umzinyathi- en Amajuba-munisipaliteit. Meer as 100 mense is dakloos gelaat. Die premier van KwaZulu-Natal, Nomusa Dube-Ncube sê families wat geraak word, ontvang humanitêre hulp:
# Die prokureur-generaal van Wisconsin, Josh Kaul het aanklagte van vervalsing teen drie medewerkers van oudpresident Donald Trump ingedien vir hul rolle in die vals kieserskema in 2020 in dié staat. Die drie is Trump se voormalige prokureurs Kenneth Chesebro en Jim Troupis en sy assistent Mike Roman. Hulle het na bewering ‘n lys van pro-Trump-kiesers gekry om dokumente te teken wat valslik verklaar dat hy die verkiesing in Wisconsin gewen het. Dié misdryf is strafbaar met ‘n boete van tot 187-duisend-rand en tot ses jaar tronkstraf.
# Tennis: Novak Djokovic het voor sy kwarteindstryd teen Casper Ruud, uit die Franse Ope onttrek weens ‘n kniebesering wat hy in die vorige ronde opgedoen het. Die wêreld-nommer-een en 24-malige wenner van Grand Slam-toernooie, sou vandag teen Ruud speel vir ‘n plek onder die laaste vier. Djokovic het Ruud verlede jaar in die eindstryd verslaan. Die 37-jarige Djokovic was self bekommerd oor sy fiksheid nadat hy Maandag in vyf stelle met Francisco Cerundolo klaargespeel het. Hy het erken hy moes anti-inflammatoriese middels gebruik om die wedstryd te voltooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-850-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….