Nuus 06:00
BULLETIN 3 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verklaar die verkiesing vry en regverdig
# Die Loterykommissie kan nie rekenskap gee van ’n betaling van R4,5-miljoen aan ’n skaakvereniging nie
# En ontwrigtende oorstromings in die Oos-Kaap eis sewe met vier wat vermis word
# Die Verkiesingskommissie het die algemene verkiesing van 2024 as vry en regverdig verklaar. Die stempersentasie was 58,61-persent, baie laer as die 66-persent in 2019. Meer as 16-miljoen stemme is uitgebring. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo het gisteraand tydens die aankondiging van die uitslae in Midrand gesê in ‘n verkiesing is die keuse van die kieser soewerein en dit mag nie misken word nie. Hy sê kiesers wat stem is die ware kampvegters vir demokrasie:
Die voorsitter van die OVK, Mosotho Moepya sê intussen die verkiesing het die krag van die kommissie getoets en die vasberadenheid van burgers getoon om demokrasie te ondersteun. Die ANC het slegs 40,18-persent van die stemme gekry, die laagste ooit. Die party het ‘n meerderheid in vyf provinsies en het onder 50-persent gedaal in KwaZulu-Natal, Gauteng, Noord-Kaap en die Wes-Kaap, wat steeds deur die DA regeer word. Moepya sê die OVK het nooit teruggestaan om ‘n verkiesing wat aan die Grondwet voldoen, te lewer nie:
# Die Nasionale Lotery-kommissie kan nie verantwoording doen vir ‘n betaling van 4,5-miljoen-rand aan die Phelindaba Skaakvereniging nie. Die nasionale beheerliggaam, Skaak SA, het geen rekord van die vereniging nie. Die kommissie het ook in Junie 2023 dubbele betalings van 9,2-miljoen-rand gemaak aan Swem SA, wat nie verduidelik kan word nie. ‘n Ondersoek het bevind meer as 1,43-miljard-rand van die kommissie se geld is waarskynlik tussen 2014 en 2020 gesteel. Die Lotery-kommissie het nie reageer op navrae oor die onreëlmatighede nie.
# Sewe mense is dood en vier word vermis ná swaar reën en oorstromings in die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap. Meer as 500 mense is verskuif na gebiede soos Korea, Qunu, Daku en Moolerground. Die vernietigende reën het die kragtoevoer na verskeie gebiede in Gqeberha onderbreek, insluitend die Hoofman Dawid Stuurman Internasionale Lughawe. Die metro sê reddingsoperasies is steeds aan die gang, en spanne is uitgestuur om die omvang van die oorstromings en skade te bepaal.
# Die president van Oekraïne Volodymyr Zelensky beskuldig China dat hy lande probeer keer om ‘n vredespitsberaad by te woon. Beijing kritiseer die beraad openlik omdat Rusland nie genooi is nie. Zelensky het gepraat op ‘n sekerheidsforum in Singapoer waar hy steun vir die konferensie soek. Hy vra meer militêre bystand vir Oekraïne, wat besig is om mag teen Russiese troepe te verloor. China glo die konferensie moet deur Rusland en Oekraïne erken word, met gelyke deelname van alle partye en regverdige bespreking van alle vredesplanne.
# Rugby: Springbok Sewes-afrigter Philip Snyman is teleurgesteld oor hul vertoning in die Madrid Sewes, die laaste toernooi van die Wêreldreeks. Die Blitsbokke moes tevrede wees met ‘n sesde plek nadat hulle met 12-7 verloor het in hul uitspeelwedstryd teen Ierland. Suid-Afrika se fokus sal nou gevestig wees op Monaco later vandeesmaand, waar hulle moet kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in Parys in Julie. Snyman sê hul gebrek aan konsekwentheid was duidelik te sien in Spanje:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-131-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….