Nuus 06:00
BULLETIN 31 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump word skuldig bevind in sy swyggeld-verhoor
# Die ANC bly aan die voorpunt nasionaal terwyl die stemtelling voortduur
# En hoofregter Zondo publiseer die reëls vir die verkiesing van ’n president in die Staatskoerant
# Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump is in sy strafregtelike verhoor in New York skuldig bevind op al 34 aanklagte van die vervalsing van sakerekords. Dit is die eerste keer dat ‘n Amerikaanse president aan ‘n misdaad skuldig bevind word. Aanklaers het Trump beskuldig dat hy kort voor die 2016-presidentsverkiesing ‘n betaling deur sy prokureur om die volwasse rolprentster Stormy Daniels se stilswye te koop, versteek het. Hy sal op 11 Julie gevonnis word.
# Met net meer as 50-persent van die stemme getel, is die ANC nasionaal steeds voor met 42,34-persent. Die DA is tans tweede met 23,38-persent en die MK-party derde met 10,77-persent. In Gauteng loop die ANC voor met 33,57-persent, gevolg deur die DA met 29,31-persent en die EFF met 12,55-persent. In die erg betwiste KwaZulu-Natal is MK op 44,92-persent, die ANC tweede met 19,59-persent en die IVP op 18,16-persent. In die Wes-Kaap loop die DA voor met 54,63-persent van die stemme, gevolg deur die ANC met 18,83-persent en die Patriotic Alliance met 9,32-persent.
Die Verkiesingskommissie sê intussen hy het ‘n houer met stembriewe verloor toe dit van die stembus by die Matamzana Dube School in KwaZulu-Natal vervoer is. Die OVK se hoofbestuurder, Granville Abrahams, sê die stembriewe in die boks is egter wel getel, gerekonsilieer en geldig verklaar. Hy sê dis onverskoonbaar dat enige verkiesingsmateriaal verloor word:
# Hoofregter Raymond Zondo het die reëls vir die eerste parlementêre sitting in die staatskoerant uitgegee. Dit behels die inhuldiging van LP’s en die verkiesing van die president, speaker en adjunkspeaker. Die Nasionale Vergadering moet gevestig word binne 14 dae nadat die OVK die verkiesingsuitslag verklaar het. Zondo sal toesig hou oor nominasies en geheime stembriewe met die pasverkose speaker wat dan tot die verdaging van die sitting as voorsitter sal optree. Die president moet sy pos binne vyf dae na die verkiesing inneem, gevolg deur Kabinetsaanstellings en die amptelike Parlementsopening.
# Die Stad Tshwane sê die Bronkhorstspruit-waterbehandelingsaanleg ervaar meganiese uitdagings met sy rouwater-pompe, en dit het gelei tot ‘n onbeplande diensonderbreking. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die instandhoudingskontrakteur het een pomp geïsoleer, wat erg gelek het. Hy sê daarna het die tweede pomp ook probleme ontwikkel, wat daartoe gelei het dat sommige gebiede lae waterdruk ervaar, terwyl ander op die oomblik geen watertoevoer het nie:
# Rugby: Die volgende seisoen van die Verenigde Rugbykampioenskap sal plaaslik afskop met twee derbies. Die Stormers sal die Bulle op 21 September in Kaapstad verwelkom, terwyl die Haaie en die Leeus mekaar die stryd in Durban sal aansê. Die gewilde kusontmoetings sal ook in Desember terugkeer, met die Stormers wat teen onderskeidelik die Leeus en die Haaie speel, terwyl die Bulle KwaZulu-Natal toe sal gaan om die Haaie aan te pak. Die eindstryd vind volgende jaar op 14 Junie plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-483-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-345-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….