Nuus 06:00
BULLETIN 12 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ekonomie behoort teen ‘n aansienlik vinniger tempo te groei
# Donald Trump verlaat Turkye in die geheim weens ‘n Iranse bedreiging
# En krieket: Björn Fortuin sal die Proteas aanvoer tydens hul besoek aan Namibië
# Die DA sê dit is duidelik dat Suid-Afrika se werkkrisis slegs vererger aangesien ekonomiese hervorming veels te stadig plaasvind om groei vinnig genoeg aan te spoor om werk te skep. Die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname toon dat die land se amptelike werkloosheidsyfer met 0,9-persentasiepunte gestyg het, van 32,7-persent in die eerste kwartaal van hierdie jaar tot 33,6-persent in die tweede kwartaal. Die DA-leier Geordin Hill-Lewis, sê ekonomiese groei moet die prioriteit wees:
Rise Mzansi sê intussen die stygende werkloosheidsyfer toon die regering het ‘n nuwe benadering tot die ekonomie nodig. Die party vra daarom dringende hervormings aan plaaslike regering, asook verbeterings aan water-, energie- en vervoerinfrastruktuur om ekonomiese groei en werkskepping te ondersteun. Mabine Seabe van Rise Mzansi sê hierdie strukturele probleme moet dringend opgelos word om beleggings te lok en werkloosheid te verminder:
# Die aanklaer in die Direktoraat Teen Korrupsie, Drushantha Ramsamy, het voor die Madlanga-kommissie getuig dat die voormalige IDAC-hoof, Andrea Johnson, haar opdrag gegee het om SAPS-brigadier Ashnie Krishnadatta te teiken. Krishnadatta het na Khan se skorsing in ‘n waarnemende posisie in die Keuringsdepartement by hom oorgeneem. Ramsamy het aan die getuienisleier Lee Segeels-Ncube gesê die opdrag is tydens ‘n vergadering in Junie 2025 gegee, waar Johnson genoem het dat haar man, Junaid, aan Krishnadatta rapporteer:
# AgriSA, Agri Wes-Kaap en die Inmaakvrugteprodusentevereniging vra dringende gesprekke met Premier Foods oor planne om sagtevrugte-inmaak by sy Tulbagh-aanleg voor die 2026/2027-oes te staak. Die organisasies waarsku die sluiting kan meer as 200 vrugteprodusente, duisende werksgeleenthede en die breër Wes-Kaapse vrugtebedryf raak. Hulle doen ‘n beroep op premier Alan Winde om bestaande ondernemings na te kom en alle belanghebbendes tyd te gee om ‘n volhoubare oplossing te vind wat boere, werkers en die streek se langtermyn-landbouproduksie beskerm.
# ‘n Moontlike Iranse bedreiging het president Donald Trump verlede maand gedwing om ná die NAVO-beraad in die geheim op Turkye se Ankara-lughawe van Air Force One via ‘n spysenieringshouer na ‘n militêre straler te verskuif. Volgens berigte het die VSA van ‘n geloofwaardige Iranse dreigement uitgevind om ‘n missiel op die vliegtuig af te vuur. Die Withuis-woordvoerder, Steven Cheung, wou niks bevestig nie, maar sê baie vyande van Amerika teiken die president en hulle gebruik elke beskikbare geleentheid om die bedreigings uit te voer.
# Krieket: Draaibouler Björn Fortuin sal die Proteas in die T20-driehoekreeks in Namibië aanvoer, asook in ‘n eendagreeks. Suid-Afrika en sy mede-gashere vir volgende jaar se eendagwêreldbeker, Namibië en Zimbabwe, sal vanaf die 28ste in die hoofstad Windhoek speel, gevolg deur drie eendagwedstryde teen die gashere. Die broers van twee Proteas is gereed om ook hul debuut vir die nasionale span te maak – topbouler Marco Jansen se tweelingbroer, Duan, en Corbin Bosch se broer, Eathan. Afrigter Shukri Conrad wil die jonger spelers ook internasionale ervaring gee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-589-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-376-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….