Nuus 06:00
BULLETIN 28 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê bevrydingsbewegings is onder druk
# Snuki Zikalala kritiseer die Amerikaanse wetsontwerp teen ANC-lede
# En Wêrelduniversiteitspele: Span SA verower 19 medaljes in Duitsland
# President Cyril Ramaphosa sê daar is ‘n hernude aanval op transformasie, progressiewe beleid, multilateralisme en ‘n herbewapening van wêreldwye instellings. As die ANC-president het hy gister ‘n byeenkoms van bevrydingsbewegings van reg oor Suider-Afrika in Johannesburg toegespreek. Ramaphosa het gesê mededinging om openbare posisies en hulpbronne het die vermoë van bevrydingsbewegings om voldoende op die behoeftes van mense te reageer, ondermyn:
# Die leier van die ANC Veteraneliga, Snuki Zikalala, het die voorgestelde Amerikaanse Wet op die Hersiening van Bilaterale Betrekkinge verwerp en sê dit het nie bestaansreg nie. Zikalala het aan SABC News gesê die wetgewing wat top-ANC-lede vir moontlike sanksies teiken, spruit voort uit Suid-Afrika se steun vir die Palestyne en bande met lande soos Iran, China en Rusland. Hy het die behoefte aan dialoog en alliansie met Amerikaanse Demokrate beklemtoon om bilaterale samewerking te bewaar:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het alle betalings uit die Uitgebreide Openbare Werke-program na die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat opgeskort na aanleiding van berigte van buitensporige salarisse wat aan mense met politieke bande betaal is. City Press het onthul dat voormalige raadslede en ampsdraers meer as 31-duisend-rand per maand verdien, ver bo die program se beoogde toelaag. Macpherson het ‘n volledige ondersoek versoek. Hy sê die Uitgebreide Openbare Werke-program sal hervorm word om korrupsie uit te skakel en te verseker dat dit werklose Suid-Afrikaners bevoordeel.
# Die DA in Johannesburg eis ‘n volledige ondersoek na alle kontrakte en verkrygingsprosesse gedurende Kenny Kunene se tyd as burgemeesterskomiteelid vir Vervoer. Kunene het bedank as burgemeesterskomiteelid en is deur die Patriotic Alliance geskors nadat hy sakeman Katiso ‘KT’ Molefe, wat met DJ Sambodi se moord verbind word, besoek het. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA het aan Newzroom Afrika gesê daar is kommer oor beweerde korrupsie:
# Oxfam sê die voorsiening van hulp deur lugsteun en ‘n paar vragmotors sal nie maande van gemanipuleerde hongersnood in Gaza ongedaan maak nie. Israel, Jordanië en die Verenigde Arabiese Emirate het oor die naweek hulp in Gaza afgelewer. Die metode is deur humanitêre groepe gekritiseer as duur, ondoeltreffend en gevaarlik. Israelse magte het volgens berigte die afgelope tyd meer as ‘n duisend mense wat kos soek se dood veroorsaak. Oxfam sê alle ingange moet onmiddellik geopen word gevolg deur volle, ongehinderde en veilige hulpverlening regoor Gaza, tesame met ‘n permanente skietstilstand.
# Wêrelduniversiteitspele: Span Suid-Afrika het 19 medaljes, insluitend ses goud, vyf silwer en agt brons, by die FISU Wêrelduniversiteitspele in Duitsland verower en algeheel sewende op die medaljelys geëindig. Die grootste deel van die span se medaljes het van swem en atletiek gekom. Die negentienjarige spoedvraat Bayanda Walaza het die spele met drie medaljes afgesluit, met goud in die 100 en 200 meter en silwer in die vier-maal-100 meter-aflos. Japan was boaan die medaljelys met 79, gevolg deur China en die VSA.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-285-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….