Nuus 06:00
BULLETIN 29 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Miljoene Suid-Afrikaners gaan vandag hul kruisies trek
# President Ramaphosa verleng die ontplooiing van die Weermag om wet en orde te handhaaf
# En rugby: SA Rugby verwag vanjaar ‘n selfs beter Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap
# Miljoene Suid-Afrikaners sal vandag gaan stem in die land se belangrikste verkiesing sedert 1994. Dit volg na twee dae van spesiale stemme. Elke kieser sal drie stembriewe ontvang – ‘n bloue vir die Nasionale Vergadering, ‘n oranje stembrief vir die provinsie na die Nasionale Vergadering en ‘n pienk een vir die Provinsiale Wetgewer. Verslaggewer Andries Cornelissen het meer besonderhede oor die 27,7-miljoen geregistreerde kiesers:
# President Cyril Ramaphosa het die ontplooiing van twee-duisend-828 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gemagtig om die polisie by te staan. Dit is vir die voorkoming en bekamping van misdaad, en die handhawing van wet en orde tydens die verkiesing. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die koste van die projek word op meer as 59-miljoen-rand beraam:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid verwelkom die Appèlhof se weiering van die voormalige uitvoerende hoof van die SABC, Hlaudi Motsoeneng, se aansoek om nie 11,5-miljoen-rand aan die openbare uitsaaier te betaal nie. Die hof het sy aansoek om verlof tot appèl teen ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys. Hy is in 2021 beveel om ‘n suksesfooi vir die bemiddeling van ‘n MultiChoice-transaksie terug te betaal. Die hof het die transaksie as onwettig en ongeldig beskou. Die ondersoekeenheid sê dit baan die weg om voort te gaan om die geld terug te kry.
# Drie mans van Soshanguve-Suid wat beskuldig word dat hulle die vyf-jarige Ditebogo Phalane doodgeskiet het, het hul borgtog laat vaar. Elia Moeko, Ali Sithole en Nido Gumbe het in die Pretoria-Noord Landdroshof verskyn op aanklagte van moord en roof. Gumbe, ‘n Mosambiekse burger, staar ook ‘n immigrasieklagte in die gesig. Die beskuldigdes het onthul hulle het hangende sake. Die NVG se streekswoordvoerder, Lukmka Mahanjana, sê die saak word tot 27 Augustus 2024 uitgestel vir verdere ondersoek:
# Pous Franciskus vra verskoning vir die beweerde gebruik van ‘n uiters neerhalende uitdrukking vir gay mans. Hy het tydens ‘n konferensie van Italiaanse biskoppe ‘n woord gebruik wat as uiters beledigend beskou word en gesê gay mans moenie toegelaat te word om as priesters opgelei te word nie. Die Vatikaan sê in ‘n verklaring hoewel dit ‘n privaat byeenkoms was, wou die pous niemand ontstel nie. Volgens die verklaring het die pous al verskeie kere verklaar die Katolieke Kerk het plek vir almal.
# Rugby: SA Rugby verwag ‘n selfs beter Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap vanjaar. Die toernooi keer die einde van aanstaande maand terug na die Wes-Kaap met die 12 topspanne in die wêreld wat sake gaan uitspook in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch, die Kaapstad-stadion en die Athlone-stadion in Kaapstad. Die Junior Springbokke begin hulle veldtog op 29 Junie teen Fidji. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê dis ‘n groot voorreg om gasheer te wees vir die volgende geslag supersterre:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-392-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….