Nuus 06:00
BULLETIN 28 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party dreig met regstappe teen die OVK oor toegang tot die Operasionele Uitslagsentrum
# Die Europese Unie veroordeel die dodelike Israelse aanval in Rafah
# En rugby: Die Bulle kan baat by ‘n oorwinning oor die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die MK-party dreig met regstappe teen die Verkiesingskommissie ná die toelating van die geskorste lid, Jabulani Khumalo, tot die Operasionele Uitslagsentrum in Midrand. Die party eis ‘n verduideliking by die OVK. Hulle het kommer uitgespreek oor die OVK se toepassing en Khumalo se bande met senior amptenare, wat aandui hy trek steeds voordeel ondanks sy skorsing en bedanking. Woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om waaksaam te bly en te stem vir die beskerming van demokrasie se integriteit:
# Die Verkiesingskommissie het kommer uitgespreek oor die onrus in verskeie gebiede in die OR Tambo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap. Die taxi-stakings het bedrywighede in Mthatha tot stilstand gedwing en die opening van die eerste dag vir spesiale stemme verhoed. Altesaam 435 stasies het weens die betogings probleme ondervind met slegs 107 wat as gevolg van eksterne faktore gesluit is. Die adjunk-hoofverkiesingsbeampte, Masego Sheburi, sê die kommissie werk saam met belanghebbendes om hierdie stasies vandag te heropen:
# Die Onafhanklike Instituut vir Onderwys raai leerders aan om nou al hul studiestrategieë vir die komende matriekeksamen te begin beplan. Die hoofbestuurder, Peter Kriel, beklemtoon die belangrikheid van ‘n goeie studieroetine en hersieningsplan. Hy beveel ‘n realistiese skedule aan wat alle vakke insluit en fokus op aktiewe leertegnieke. Kriel sê swak areas moet veral aandag kry, verskillende studiemetodes moet gebruik word en ‘n oefen-eksamen moet afgelê word om prestasie te verbeter. Hy sê die vyf-maande studieplan sal selfvertroue bevorder en stres verminder.
# Die Lughawemaatskappy Suid-Afrika het ‘n lugvaartsekerheidsmodel bekendgestel wat met verskeie wetstoepassingsowerhede geïntegreer is om misdaad by sy lughawes te bekamp. Dit volg nadat die grensbestuursowerheid se immigrasie-afdeling 28 burgers van Bangladesj by OR Tambo Internasionale Lughawe gearresteer het. Een van die reisigers het nie ‘n visum gehad nie, terwyl die ander 27 se visums vervals was. ACSA sê bedrog, korrupsie of ander onwettige of kriminele gedrag sal vasgevat word.
# Die buitelandse beleidshoof van die Europese Unie, Josep Borrell het Sondag se dodelike Israelse lugaanval op ‘n kamp vir ontheemde Palestyne in Rafah, Gaza, veroordeel. Die dodetal van die lugaanval het tot 45 gestyg, insluitend vroue en kinders. Sowat 800-duisend mense het uit Rafah gevlug, maar honderde duisende skuil steeds daar. Borrell sê die Wêreldhof het Israel beveel om sy militêre aanval op Rafah te staak en dit moet nou uitgevoer word:
# Rugby: Die Bulle staan ‘n kans op boaan die Verenigde Rugbykampioenskap se punteleer te eindig as hulle die Haaie in Saterdag se finale groepswedstryd in Durban klop. Die span van Pretoria lê tans tweede, twee punte agter Munster. As Ulster vir Munster ore aansit, sal die Bulle eerste wees met ‘n oorwinning oor die Haaie, en sodoende tuiswedstryde inpalm in al hulle uitklopwedstryde. Die Stormers is tans vyfde op die punteleer na Leinster en Glasgow Warriors.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-364-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-350-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….