Nuus 06:00
BULLETIN 24 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê mense vertrou al hoe meer op die ANC
# Popcru is bekommerd oor die polisie se voorbereiding vir die verkiesing
# En die Internasionale Geregshof sal vandag ‘n bevel uitvaardig in Suid-Afrika se volksmoordsaak
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê mense spreek toenemend hul vertroue uit in die party onder leiding van president Cyril Ramaphosa, om die ekonomie te bou, werk te skep, dienslewering te verbeter en korrupsie te bekamp. Die ANC het in vorige verkiesings ‘n konstante afname in steun getoon, met peilings wat daarop dui dat dit hierdie keer onder 50-persent sal daal. Mbalula, het op die vooraand van hul finale verkiesingsbyeenkoms in die FNB-stadion gesê die ANC bly daartoe verbind om homself te vernuwe:
# Die vakbond Popcru het kommer uitgespreek oor die SAPD-bestuur se hantering van voorbereidings vir volgende week se nasionale algemene verkiesing. Die woordvoerder, Richard Mamabolo, het die polisie gekritiseer oor die delegeer van verantwoordelikhede na provinsies en die gebrek aan ‘n duidelike ontplooiingsplan. Mamabolo het onopgeloste kwessies rakende verlofdae uitgelig en polisiebestuur beskuldig van die ondermyning van gesamentlike bedinging. Hy waarsku swak werksomstandighede verlaag die moreel onder polisielede:
# Die DA in Gauteng eis dat die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling onmiddellik die subsidies van organisasies sonder winsbejag moet betaal om die lyding van kwesbare mense te verlig. Die Hooggeregshof in Johannesburg het die departement gelas om vandag die befondsingsaansoeke wat ingedien is, af te handel en teen die einde van die maand diensvlakooreenkomste te finaliseer. Refiloe Nt’sekhe van die DA sê daar is verskeie stappe wat die party sou doen indien hy aan bewind was, om te verseker die organisasies word betyds betaal:
# Die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland, beplan om vandag sy besluit bekend te maak oor Suid-Afrika se versoek vir voorlopige maatreëls teen Israel. Suid-Afrika het sy versoek op 10 Mei ingedien om Palestynse regte te beskerm en te verseker Israel kom sy verpligtinge na. Hy beweer Israel het die Volksmoordkonvensie oortree wat Palestyne in Gaza betref. Voorlopige maatreëls is tussentydse opdragte om regte te beskerm terwyl ‘n saak hangende is. Die hof het soortgelyke maatreëls in Januarie en Maart vanjaar goedgekeur.
# Rugby: Die Springbokslot Eben Etzebeth is vanaand die Haaie se kaptein in die Uitdaagbeker-eindstryd teen Gloucester in Londen. Hy neem oor by sy mede-Wêreldbekerwenner Lukhanyo Am, wat beseer is. Die hoofafrigter John Plumtree het dieselfde span gekies wat Clermont in die voorlaaste ronde geklop het. Nog ‘n Bok, die loskopstut Ox Nché, wat sy 50ste wedstryd vir die span van Durban speel, sê almal is gefokus. Die wedstryd skop vanaand om nege-uur af in Tottenham Hotspur se stadion.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-646-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Van Ryn se 15-jaar-oue potketelbrandewyn is die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die wêreld se Beste Wynbrandewyn op die 2024 Wêreld-dranktoekennings. Dit het mededingers van ander Suid-Afrikaanse distilleerders, soos Frankryk, Spanje en Australië uitgestof. Dit is die vierde keer in vyf jaar dat Van Ryn die gesogte titel inpalm. Die brandewyn, wat in Franse eikehoutvate verouder is, bied ‘n grasieuse profiel met geure van drop, toffie en steenvrugte. Die versnitmeester Marlene Bester prys die span se toewyding en nooi geesdriftiges uit om hulle reeks aanlyn of by die distilleerdery in Stellenbosch te ontdek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….