Nuus 06:00
BULLETIN 16 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê dit gaan goed met Paul Mashatile nadat hy in Limpopo inmekaargesak het
# Die minister van Basiese Onderwys gaan die begrotingbesnoeiing met die Tesourie bespreek
# En motorsport: Oscar Piastri wen die Azerbeidjan Grand Prix
# Die presidensie sê adjunkpresident Paul Mashatile is in goeie gesondheid en rus tuis. Hy het Saterdag ineengestort toe hy by die N’wamitwa-dagvieringe in Tzaneen, Limpopo, die hoofrede gelewer het in hitte van 36 grade Celsius. Mashatile se waarnemende woordvoerder, Keith Khoza, het Suid-Afrikaners bedank vir hul ondersteuning en gebede vir die adjunkpresident:
# Die minister van Basiese Onderwys Siviwe Gwarube sal dié week met die Nasionale Tesourie vergader oor begrotingsbesnoeiings wat die onderwyssektor raak. Gwarube het ‘n spontane vergadering gehou met vyf onderwysvakbonde tydens die departement se strategiese beplanningsessie in Pretoria, gefokus op die uitwerking van begrotingsbesnoeiings. Die vakbonde het die behoefte beklemtoon om onderwysgehalte te handhaaf. Gwarube gee die versekering daar is voortgesette pogings om nog besnoeiings te keer:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê onvolledige aanlyn leerderregistrasies en laat registrasies sal vanaf 11 Desember verwerk word. Chiloane het bevestig 19-duisend-en-32 onvolledige registrasies is ontvang. Die LUR sê 325-duisend-858 volledige registrasies sal voorkeur kry. Daarbenewens het Chiloane gewaarsku dat alle ouers nie toegelaat sal word om te appelleer vir ander skole as waar hulle aanvaar is nie:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer word daarvan beskuldig dat hy parlementêre reëls oortree het. Hy het na bewering versuim om te verklaar dat die invloedryke sakeman en Arbeidersparty-skenker, Waheed Alli, duur klere vir sy vrou Victoria gekoop het, ‘n persoonlike koper verskaf het en vir verstellings betaal het. Die Britse media berig Starmer se geregistreerde finansiële belange toon verskeie skenkings van Alli, insluitend talle brille, werksklere en verblyf. Maar die skenkings aan sy vrou is nie gelys nie. Die Konserwatiewe Party vra ‘n volledige ondersoek.
# Motorsport: Oscar Piastri van McLaren het Ferrari se Charles Leclerc gefnuik en só die Azerbaijan Grand Prix gewen. Mercedes se George Russell was derde nadat hy voordeel getrek het uit ‘n ongeluk in die voorlaaste rondte tussen Red Bull se Sergio Pérez en Carlos Sainz van Ferrari. McLaren se Lando Norris het vierde geëindig en sy agterstand in die bestuurderskampioenskap teen Red Bull se Max Verstappen tot 59 punte verminder. Laasgenoemde was vyfde. McLaren loop nou met 20 punte voor Red Bull in die vervaardigerskampioenskap. Piastri sê dit is een van die beste wedrenne van sy loopbaan:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-185-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-580-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Die familie van die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, sê die boodskappe van hartseer, patriotisme en sosiale eenheid ná sy afsterwe was vertroostend. Die 75-jarige is Vrydag in die hospitaal dood. Sy familie het versoek dat in plaas van blomme, skenkings eerder aan die Ahmed Kathrada-stigting gemaak word. President Cyril Ramaphosa het ‘n Spesiale Amptelike Begrafnis Kategorie 2 vir die struggle-ikoon afgekondig. Dit sal Donderdag plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….