Nuus 06:00
BULLETIN 22 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê niemand gaan die ANC vernietig nie
# Rugby: Die Springbokke kom bymekaar vir hul tweede belyningskamp
# En huldeblyke stroom in ná die heengaan van die DA-strydros James Selfe
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa het herhaal dat hy vol vertroue is dat sy party ‘n meerderheid sal behaal in volgende week se algemene verkiesing. Peilings dui daarop dat die regerende party ongeveer 45-persent van die stemme kan kry, wat sou beteken hulle moet ‘n koalisie vorm om ‘n meerderheid te verseker. Die president het tydens sy verkiesingsveldtog in Bokamoso in Noordwes gesê niemand gaan die ANC vernietig nie, dis die tuiste vir alle Suid-Afrikaners:
Die polisie in Limpopo ondersoek intussen nog vier sake van poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en twee aanklagte van die oortreding van die Kieswet. Dit hou verband met die geweld wat Sondag tussen EFF- en ANC-ondersteuners uitgebreek het by Juju Valley in Seshego. ‘n Negejarige kind en 25-jarige man is tydens die voorval geskiet. Polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê die minderjarige is steeds in die hospitaal:
# Die Gauteng Sorg-krisiskomitee gaan ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Johannesburg indien. Die komitee versoek die departement om Diensvlakooreenkomste af te handel en om organisasies sonder winsoogmerk teen 31 Mei te betaal. Hulle eis ook ‘n verslag wat organisasies wat befonds is omskryf en om die redes op dieselfde datum voor te lê vir aansoeke wat verwerp is. Hulle oogmerk is om deursigtigheid en aanspreeklikheid in die besluitnemingsprosesse van die departement te verseker.
# Die vrou van die Hollywoodse akteur, George Clooney, was deel van ‘n internasionale paneel wat aanbeveel het die Internasionale Geregshof moet aansoek doen om lasbriewe vir Israelse en Hamas-leiers. Menseregteprokureur, Amal Clooney, het ook getuienis van vermoedelik oorlogsmisdaad asook misdaad teen die mensdom oorweeg. Onder die leiers wat die hoofaanklaer van die hof, Karim Khan, wil laat arresteer, is die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu en drie leiers van Hamas. Volgens Clooney glo sy aan die soewereiniteit van die reg en die noodsaak om burgerlike lewens te beskerm.
# Rugby: Die Springbokke begin vandag in Kaapstad met hulle tweede persoonlike belyningskamp – ‘n maand voor hulle eerste toets op 22 Junie teen Wallis in Londen. ‘n Groep van 38 spelers is byeen vir die tweedaagse kamp. Spelers van die Haaie wat Vrydag in die eindstryd van die Uitdaagbeker teen Gloucester speel, is van die kamp verskoon. Die kamp volg op ‘n tweedaagse strategie-sessie vir afrigters die afgelope naweek waartydens voorbereiding vir die kamp afgehandel is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-11-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-422-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-37-sent per vat.
# En laastens: Huldeblyke stroom in nadat die voormalige federale raadsvoorsitter van die DA, James Selfe gistermiddag ná ‘n lang siekbed dood is. Die 68-jarige het byna twee dekades in die party gedien voordat hy in 2019 afgetree het weens swak gesondheid. Die DA-leier, John Steenhuisen sê Selfe het sy lewe aan bevryding gewy. Die president van ActionSA, Herman Mashaba sê hy was ‘n ware patriot en ‘n toegewyde staatsamptenaar en Build One South Africa se woordvoerder, Roger Solomons sê sy leier, Mmusi Maimane het Selfe as ‘n goeie vriend beskryf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….