Nuus 06:00
BULLETIN 21 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa neem kennis van die Konstitusionele Hof se beslissing oor Zuma
# Hamas kritiseer die aanklaer van die Wêreldhof omdat lasbriewe vir inhegtenisneming versoek word
# En rugby: Die president van SA Rugby sê transformasie is ‘n proses
# President Cyril Ramaphosa sê hy neem kennis van die uitspraak deur die Konstitusionele Hof dat oudpresident Jacob Zuma nie aan die verkiesing mag deelneem nie. Dit volg ná sy skuldigbevinding aan en vonnis vir minagting in 2021. Die hof het bevind Zuma mag nie tot die Nasionale Vergadering verkies word voordat vyf jaar verloop het ná die voltooiing van sy vonnis nie. Ramaphosa sê die uitspraak van die Hof moet gerespekteer word:
# Die DA beweer die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, het nie ‘n diensvlakooreenkoms onderteken met gekose maatskappye vir ‘n nuwe myn-kadastrale stelsel nie, ondanks beloftes by die myn-indaba in Februarie. Volgens die party dui ‘n verslag deur die Fraser-instituut aan Suid-Afrika bly onaantreklik vir mynboubelegging. Die party sê indien die agterstand met mynregte uitgewis kan word, sal dit 30-miljard-rand se beleggings ontsluit. James Lorimer van die DA vra kiesers om hierdie vertragings te onthou in die verkiesing:
# Die bedrog- en korrupsiesaak teen die omstrede sakeman Kishene Chetty en 25 van sy medebeskuldigdes is tot 11 Junie uitgestel in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Palm Ridge. Uitstel is aan nege van die beskuldigdes verleen sodat hulle die aanstelling van prokureurs van Legal Aid South Africa kan bevestig. Die Ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Henry Mamothame, sê borgtog is verleng vir 24 van die beskuldigdes, terwyl ‘n waarskuwing aan een beskuldigde uitgereik is:
# Die Departement van Landbou het plase naby Humansdorp in die Oos-Kaap onder kwarantyn geplaas weens van bek-en-klouseer. Drie plase het positief getoets vir die SAT3-virus, wat soortgelyk is aan die een wat in 2021 en 2022 tot uitbrekings in Limpopo, Noordwes, die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga gelei het. Woordvoerder Reggie Ngcobo bevestig kwarantynmaatreëls en epidemiologiese ondersoeke word uitgevoer op eiendomme wat moontlik geraak word. Hy vra boere vir biosekerheid, insluitend gesondheidsklaring en afsonderingsprotokolle vir nuwe diere. Hy het bevestig bewegingsbeheer is nog nie oral van krag is nie, maar mag later dalk nodig wees.
# Die militante groep Hamas sê hy veroordeel die hoofaanklaer van die Wêreldhof, Karim Khan ten sterkste vir pogings om slagoffers gelyk te stel aan aggressors deur lasbriewe uit te reik. Khan het aansoek gedoen vir die arrestasie van Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu, Hamas-leier Yahya Sinwar, Israelse minister van Verdediging, Yoav Gallant en twee ander Hamas-leiers. Hulle word verdink van oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. Hamas eis dat die hof lasbriewe uitreik vir individue wat aan misdade teen die Palestynse volk deelgeneem het.
# Rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander sê hulle is stewig op pad na transformasie. ’n Omvattende oudit van 206 bladsye wat deur Saru saamgestel is, dui daarop dat die Bokke nie die transformasieteikens van 54-persent bereik het in enige van die drie reekse wat hulle verlede jaar gespeel het nie. Alexander sê hoewel die Springbokke demografiese teikens het, het hulle ook prestasieteikens wat nie opgeoffer kan word nie. Hy sê transformasie is ’n voortdurende proses op alle sportvlakke in die land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-226-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-429-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….