Nuus 06:00
BULLETIN 20 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof sal vandag uitspraak lewer oor die OVK se appèl oor Zuma se verkiesbaarheid
# Alle hoërisiko-stemgebiede is voor die verkiesing geïdentifiseer
# En die dodetal in George styg tot 34
# Die Konstitusionele Hof lewer vandag uitspraak oor oudpresident Jacob Zuma se geskiktheid om in die komende verkiesing vir die Parlement te staan. Die Verkiesingskommissie het verlede maand ‘n dringende aansoek ingedien teen die besluit van die Verkiesingshof oor Zuma se geskiktheid as kandidaat van die MK-party. Die OVK het aangevoer dat sy tronkstraf van 12 maande hom uitsluit van die verkiesing. Die verkiesingshof het bevind omdat Zuma nie kon appelleer nie, dit nie ‘n vonnis ingevolge die Grondwet uitmaak nie.
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur-koördineringsentrum is van 22 Mei tot 9 Junie operasioneel om veiligheid vir die verkiesing te verseker. Die medevoorsitter van NatJoints, Tebello Mosikili, beklemtoon die sentrum is toegerus met moderne tegnologie en dien as ‘n sentrale punt vir die monitering en koördinering van reaksie op bedreigings. Sy sê hulle vyfledige benadering sluit intelligensie-insameling, wetstoepassing, opsporing en die deel van inligting om sekerheid op te skerp:
Die koördineringsentrum het intussen ook hoërisiko-stemlokale en onbestendige gebiede vir deurlopende monitering identifiseer. Mosikili, sê ontplooiings word beplan volgens risiko-ontledings en intelligensieverslae. Sy sê Openbare Orde-polisiëringseenhede is gereed om bedreigings te hanteer, insluitend betogings en ‘n beplande staking deur vragmotorbestuurders. Sy het Natjoints se misdaadvoorkomingsrol tydens die verkiesing benadruk en gewaarsku teen die beplande staking deur vragmotorbestuurders:
# Die dodetal in die George-gebouramp in die Wes-Kaap het tot 34 gestyg nadat nog ‘n persoon in die hospitaal dood is. Dit volg op die afhandeling van die soek-en-reddingsoperasie op die rampterrein verlede Vrydag. Die polisie het reeds ‘n strafregtelike ondersoek na die intuimeling begin, terwyl die Departement van Arbeid die terrein sal oorneem sodra die polisie klaar is. Die departement se provinsiale hoofinspekteur, David Esau het al die families van slagoffers versoek om te registreer vir vergoeding.
# ‘n Israelse missielaanval op ‘n huis in die Nuseirat-vlugtelingkamp in Sentraal-Gaza, het die lewens van minstens 35 mense, waaronder nege kinders geëis. Meer as 20 mense is gewond. Dit volg terwyl president Joe Biden se nasionale sekerheidsraadgewer, Jake Sullivan samesprekings in Israel voer met senior amptenare, insluitend premier Benjamin Netanyahu. Dit is deel van ‘n nuwe poging om ‘n skietstilstand in Gaza te verseker. Meer as 35-duisend-456 mense is in Gaza dood sedert Hamas Israel verlede jaar aangeval en een-duisend-200 mense doodgemaak en 252 ander gyselaar geneem het.
# Rugby: Die Springbokke, Bulle en Leeus is van die spanne waarop gefokus word in ‘n omvattende ouditverslag oor die stand van hervorming in Suid-Afrikaanse rugby. Volgens Rapport het die Springbokke nie die hervormingsteiken van 54-persent gehaal in enige van die drie reekse wat hulle verlede jaar gespeel het nie. In die Wêreldbekertoernooi in Frankryk het die Springbokke slegs 38-persent swart en bruin spelers ingesluit. Intussen het die Leeus en Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskap slegs onderskeidelik 33- en 28-persent van hul teikens gehaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-399-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-436-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….