Nuus 06:00
BULLETIN 11 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party kritiseer die Tesourie se appèl teen die Maatskaplike Noodlenigingstoelaag
# Ten minste 111 mense is dood in ‘n aardbewing van 7,4 in Colombia
# En rugby: SA Rugby bring hulde aan die voormalige Bok-haker, Piston van Wyk
# Die GOOD-party sê die Nasionale Tesourie se besluit om teen ‘n hofuitspraak te appelleer wat die regering gelas om die toegang tot die Maatskaplike Noodlenigingstoelaag te verhoog en uit te brei, is skandelik. Die Tesourie skat die toepassing van die uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria om toegang tot die toelae te verbreed, kan die regering ‘n ekstra 93,5-miljard-rand per jaar kos. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die verskoning van onbekostigbaarheid deur die Tesourie is ‘n politieke keuse wat as fiskale beperking vermom word:
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika het die betroubaarheid van die statistiek wat deur die regering oor misdade teen vroue en kinders aangebied word, bevraagteken. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens die publikasie van afgebreekte misdaaddata in Augustus verlede jaar opgeskort het, insluitend statistiek oor die moord op en aanranding van vroue en kinders. Die uitvoerende direkteur van Amnestie Internasionaal SA, Shenilla Mohamed, sê wanneer kritieke inligting oor moorde en aanrandings van vroue in amptelike statistiek ontbreek, ondermyn dit pogings om geweld te voorkom, hulpbronne effektief toe te ken en diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik te hou.
# Eskom sê hy het sy afhanklikheid van diesel-aangedrewe opwekking aansienlik verminder, ondanks die selektiewe gebruik van diesel tydens spitstye en om die vereiste reserwes te handhaaf. Vir die boekjaar tot dusver van 1 April tot 6 Augustus, staan dieseluitgawes op 948,46-miljoen-rand, vergeleke met 5,73-miljard-rand oor dieselfde tydperk verlede jaar. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die Oopsiklus-gasturbine se ladingsfaktor was gemiddeld 1,17-persent, teenoor die 9,33-persent in die vorige jaar:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê ‘n persoon van belang word ondervra in verband met die moorde op vier mense in Reigerpark, Ekurhuleni. Twee beamptes van die Teen-bende-eenheid en twee burgerlikes is oor die naweek in Reigerpark doodgeskiet. ‘n Multidissiplinêre span van Gauteng, gelei deur die Valke, het twee R-5-gewere teruggevind wat van die beamptes in ‘n plakkerskamp in Germiston gesteel is. Cachalia sê die ondersoek na die moorde duur voort:
# Minstens 111 mense is dood nadat ‘n aardbewing van 7,4 die weste van Colombia gister getref het. Die aardbewingsentrum was in San José del Palmar in die Chocó-streek. Verskeie geboue het ineengestort of is beskadig, insluitend die Manizales-katedraal. Colombia se president, Abelardo De La Espriella, het ‘n Verenigde Bevelpos gestig om die reaksie op die skade te koördineer en diegene wat geraak is, by te staan. Die aardbewing is ook in dele van Venezuela gevoel, minder as twee maande nadat die land deur twee aardbewings getref is, wat ses-duisend-100 mense se lewens geëis het.
# Rugby: SA Rugby het hulde gebring aan voormalige Springbok-haker Piston van Wyk, wat oor die naweek op 82-jarige ouderdom oorlede is. Hy het vir Noord-Transvaal en Natal gespeel, nou die Bulle en Haaie, en het tussen 1970 en 1976 in 15 toetswedstryde vir die Bokke gespeel. Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê Van Wyk se loopbaan is gekenmerk deur sy formidabele skrumkrag, sy onwrikbare toewyding aan die span en sy onvergeetlike vertonings teen van die wêreld se moeilikste teenstanders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-935-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-392-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….