Nuus 06:00
BULLETIN 25 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie sal die mag hê om sake vir onmiddellike strafregtelike ondersoek te verwys
# Die DA eis antwoorde oor Iran se beweerde betrokkenheid by die Pretoria-stadsaalprojek
# En die stoeilegende Hulk Hogan is op 71-jarige ouderdom oorlede
# Die regterlike kommissie van ondersoek wat die bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek, sal die mag hê om sake te verwys vir onmiddellike strafregtelike ondersoek en dringende besluite kan neem oor vervolging. Dit is volgens die Madlanga-ondersoekkommissie se opdrag, wat in die Staatskoerant gepubliseer is. Die kommissie sal onder andere die infiltrasie van misdaadsindikate in wetstoepassing ondersoek. Die kommissie sal twee verslae aan president Cyril Ramaphosa voorlê, een na drie maande en die tweede na ses maande.
Die EFF-leier Julius Malema beweer intussen daar is diep verdeeldheid in die polisie. Malema het aan die media gesê bewerings deur Mkwanazi moet deur die Parlement se ad hoc-komitee ondersoek word sodat die waarheid na vore kan kom. Hy het onderneem om aan die ondersoek deel te neem en sê hy behoort aan geen faksie of kartel nie:
# Die Demokratiese Alliansie sê enige vennootskap tussen die Stad Tshwane en die Iranse regering moet versigtig oorweeg word en waarsku dit kan Suid-Afrika se internasionale reputasie skaad. Dit volg na berigte dat die Iranse ambassade moontlik betrokke is by planne om die vervalle Pretoria Stadsaal te herstel en te huur. Cilliers Brink van die DA dring aan die burgemeester Nasiphi Moya moet antwoorde verskaf, aangesien die saak openlik in die raad gedebatteer moet word voor enige ooreenkoms gesluit kan word:
# Die kantoor van die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, sê hy oorweeg ‘n hersiene voorstel van Hamas vir ‘n moontlike wapenstilstand en die vrystelling van gyselaars. Israel gaan steeds voort met lug- en grondaanvalle op die Gazastrook. Hamas het bevestig dat hy ‘n nuwe voorstel oorhandig het, maar nie die inhoud bekend gemaak nie. Volgens Reuters het bemiddelaars ‘n vorige weergawe as onvoldoende verwerp en nie eens aan Israel deurgegee nie. Albei kante is onder groot druk om ‘n ooreenkoms te bereik, terwyl die humanitêre omstandighede in Gaza steeds versleg.
# Rugby: Die nuwe hoofafrigter van die Bulle, Johan Ackermann, sê ego’s sal nie op Loftus geduld word nie en elke speler moet sy plek in die span verdien. Hy het sy manne belowe dat hulle altyd sal weet waar hulle met hom staan. Ackermann wil ‘n span hê wat hard werk, en waarsku dat spelers die span eerste moet stel. Hy sê hy wil nie die direkteur van rugby wees soos sy voorganger, Jake White, nie, maar wil die afrigter wees wat sy hande op die veld vuil maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-392-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-369-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die stoei-ikoon en akteur, Hulk Hogan, is op 71-jarige ouderdom oorlede. Hogan, wie se regte naam Terry Bollea was, is aan ‘n hartaanval dood. Hy was bekend vir sy rooi en geel uitrustings en sy oordrewe persoonlikheid. Hy het in die 80’s roem verwerf en WWE-stoei gehelp om wêreldwye erkenning te kry. Hogan het ook in rolprente verskyn, insluitend 1982 se Rocky III, Mr. Nanny, en Suburban Commando. Hy is in 2005 in die WWE Hall of Fame opgeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….