Nuus 06:00
BULLETIN 17 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika versoek die Internasionale Geregshof om Israel te beveel om aan Rafah in Gaza te onttrek
# Die DA ontplooi 100 party-agente wêreldwyd voor die oorsese stemming
# En rugby: Die senter van die Haaie, Murray Koster word vir vyf wedstryde geskors
# Suid-Afrika het die Internasionale Geregshof in Den Haag versoek om Israel te beveel om onmiddellik sy militêre magte in Rafah te onttrek en sy offensief te staak as deel van bykomende voorlopige noodmaatreëls. Israel se prokureurs sal na verwagting vanoggend reageer. In haar vertoë voer die Suid-Afrikaanse advokaat, Adila Hassim, aan dat Israel se optrede in Rafah die voortbestaan van Palestyne in gevaar stel en ‘n skending van internasionale reg is:
# Intussen sê Suid-Afrika Israel se voorneme om Palestyne in Gaza uit te wis is onmiskenbaar en moet stopgesit word. Suid-Afrika se regsverteenwoordiger Tembeka Ngcukaitobi sê Israel se voortgesette aanhitsing tot volksmoord eis onmiddellike optrede. Ngcukaitobi beskuldig Israelse leiers van die oortreding van die Volksmoordkonvensie en minagting van die hof:
# Die DA het meer as 100 partyagente wêreldwyd ontplooi om ‘n vrye en regverdige stemproses te verseker, ure voor daar begin word met stemmery in die buiteland. Meer as 78-duisend geregistreerde Suid-Afrikaners kan oor die volgende drie dae stem. Londen, met meer as 24-duisend geregistreerde kiesers, is die grootste stemdistrik. Opgeleide agente sal sleutellande soos Australië, Amerika en Nederland dek. Opgeleide partyagente is ook toegeken aan Egipte, Sirië, Iran, Jordanië, Koeweit, Palestina en Algerië.
# COPE het president Cyril Ramaphosa geloof vir sy besoek aan die terrein waar die gebou in George ingetuimel het, maar daag hom uit om dieselfde moed bymekaar te skraap en sy belofte na te kom om die Marikana-slagoffers te besoek. Altesaam 33 mense is dood en 19 werkers word steeds vermis ná die gebouramp in George. Pakes Dikgetsi van COPE sê op dieselfde manier as wat Ramaphosa deernis aan die mense van George betoon het, moet sy hart ook uitgaan na die mense van Marikana:
# Die portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid in die Gautengse Wetgewer erken die dringende behoefte om die misdaadgolf in Rietgat, Soshanguve, Fochville en Ratanda te bekamp. In die jongste voorval is die vyfjarige Ditebogo Junior Phalane doodgeskiet toe sy pa verlede week Vrydag buite hul huis in Soshanguve gekaap is. Die komitee sê hy ondersteun die gemeenskap se beroep dat die stasiebevelvoerders en personeel omgeruil word. Dit sal nuwe leierskap en ‘n vars benadering tot polisiëring verseker.
# Rugby: Die senter van die Haaie, Murray Koster is vir vyf wedstryde geskors oor sy rooikaart teen Benetton in die Verenigde Rugbykampioenskap in Durban. Hy het die rooikaart gekry vir ‘n gevaarlike aansluiting by ‘n losskrum. Koster se goeie rekord, tydige erkenning van skuld en verskoning het gelei tot ‘n skorsing van vyf wedstryde, pleks van die geregverdigde tien. Hy sal môre die kragmeting teen Cardiff in Durban, die Uitdaagbeker-eindstryd teen Gloucester en die laaste wedstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Bulle misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-365-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-377-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….