Nuus 06:00
BULLETIN 7 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Sasol lewer ‘n groot bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie
# Die Departement van Verdediging sê hy benodig meer geld van die Tesourie
# En rugby, Rassie sê tweedekeuse-spelers is steeds deel van sy planne vir die reeks teen die All Blacks
# President Cyril Ramaphosa het Sasol se bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie geprys en die maatskappy se rol in die ondersteuning van industrialisering, energiesekerheid, vervaardiging, infrastruktuurontwikkeling en werkskepping beklemtoon. Hy het gister Sasol se Secunda-aanleg in Mpumalanga besoek, waar ongeveer 35-miljoen-ton plaaslik ontginde steenkool elke jaar verryk word. Dit is om ‘n wye reeks brandstof- en chemiese produkte te vervaardig wat sleutelsektore van die ekonomie ondersteun. Ramaphosa het ook die maatskappy se vennootskappe met klein en mediumgrootte ondernemings geprys:
# Die Departement van Verdediging sê die oorbesteding aan salarisse is die gevolg van begrotingsbeperkings, nie finansiële wanbestuur of ‘n opgeblase administrasie nie. Die departement se vergoedingsbegroting is met ongeveer 3,7-miljard-rand oorskry, ‘n tekort van meer as 13-miljard-rand oor die volgende drie jaar. Die departement het tans 72-duisend-en-95 personeellede, wat tot 79-duisend-349 styg wanneer die reserwemag ingesluit word. Die finansiële hoof, Edem Abotsi, waarsku volgende jaar se oorbesteding gaan 4,1-miljard-rand beloop as die Nasionale Tesourie nie die departement meer geld gee nie.
# Die hoof van ondersoeke by die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Matthews Sesoko, het aan die Madlanga-kommissie gesê vorige viktimisasie in die werkplek en ‘n vermeende werkverwante ontvoering het hom verhinder om sy uitsluiting van Misdaadintelligensie-ondersoeke te betwis. Sesoko het gesê hoewel daar moontlik ‘n saak teen Misdaadintelligensie-amptenare was, het IDAC versuim om behoorlike ondersoekprosesse te volg, wat die integriteit van die sake in gevaar stel:
# Die Brakpan-landdroshof het die moordsaak teen die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en vier ander tot 13 Augustus uitgestel. Mkhwanazi sal in aanhouding bly nadat die staat borgtog teengestaan het. Die vyf word daarvan beskuldig dat hulle die sakeman Emmanuel Mbense, wie se liggaam in ‘n dam naby Nigel gevind is, vermoor het. Mkhwanazi se prokureur, Peter Wilkins, voer aan sy kliënt moet nie aan ‘n bylae ses-aanklag onderwerp word nie, en meen hy was hoogstens ‘n medepligtige aan die misdaad:
# Noord-Korea het in sy jongste wapentoets ‘n kortafstand-ballistiese missiel in die see oos van die Koreaanse Skiereiland afgevuur. Suid-Korea se Weermag sê toesig is verskerp en hy werk ten nouste saam met Amerika en Japan om enige verdere optrede dop te hou. Die toets volg op ‘n reeks missiel- en artillerie-oefeninge deur Pjongjang en vind plaas voor die beplande gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Korea en Amerika. Ontleders meen dit kan ook verbind word met onlangse spanning met Japan oor sy verdedigingsbedrywighede.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het tweedekeuse-spelers verseker hulle is steeds deel van sy planne voor die Rugby’s Greatest Rivalry-toetsreeks teen Nieu-Seeland. Hy sê Saterdag se toets teen Argentinië gaan daaroor om momentum te bou, prestasie te verbeter en terugkerende spelers waardevolle wedstryd-tyd te gee na beserings. Erasmus sê tweedekeuse-spelers hoef hulself nie te bewys nie, en rotering is van die uiterste belang tydens die reeks van vier toetse. Hy het ook vertroue in kaptein Siya Kolisie se fiksheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-160-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-246-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….