Nuus 06:00
BULLETIN 6 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma se ANC-tugverhoor word uitgestel oor sekerheidskwessies
# Beurtkrag bly opgeskort weens volgehoue verbeterings in opwekkingsvermoë
# En rugby: Die Blitsbokke eindig in ‘n teleurstellende sesde plek in Singapoer
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die party se nasionale tugkomitee is aangeraai om Jacob Zuma se verhoor tot ná die algemene verkiesing uit te stel. Die voormalige president is geskors en staan tereg op twee aanklagte van oortreding van die ANC-grondwet weens sy betrokkenheid by die nuutgestigte MK-party. Mbalula sê die regerende party het sekerheidskwessies geïdentifiseer indien Zuma se tugverhoor môre gehou sou word:
# Eskom sê beurtkrag is steeds opgeskort. Dis vandag die 40ste agtereenvolgende dag sonder onderbrekings. Dit is te danke aan verbeterings in die voorkoming van onbeplande onderbrekings en die betroubaarheid van die opwekkingsnetwerk. Altesaam twee-duisend-600 megawatt sal na verwagting teen vandag herstel word. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die energiebeskikbaarheidsfaktor was sedert die 29ste van verlede maand bo 60-persent en het aan die begin van hierdie maand tot 65-persent gestyg:
Die kragvoorsiener het intussen onthul hy het sedert 2018, 203-miljard-rand weens korrupsie verloor. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het dit toegeskryf aan nalatigheid met onderhoud, bestuur en onwettige transaksies. In ‘n onlangse antwoord in die Parlement het Gordhan klem geplaas op pogings om ná die onthullings van die Staatskapingskommissie, korrupsie te beveg. Minstens 5,2-miljard-rand is tot dusver herwin. Dit sluit bedrae uit in voortgesette ondersoeke en regsoptrede teen betrokke entiteite, waaronder SAP, ABB Suid-Afrika, Deloitte, McKinsey en Trillian.
# Rand Water het drasties opgetree en die watertoevoer verminder na die Merafong-, Ngwathe-, and Victor Khanye-munisipaliteite in Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga weens onbetaalde skuld. Die uitstaande bedrae, wat meer as ‘n miljard-rand beloop, plaas die waterverskaffer sedert 2019 onder groot druk. Met aansienlike agterstande wat diensverskaffing bedreig, het Rand Water die toevoer besnoei met 20-persent. Hy benadruk die kritieke uitwerking van nie-betaling op waterdienste se operasionale integriteit en institusionele funksionaliteit.
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu se kabinet het eenparig gestem om die Al Jazeera-televisienetwerk in die land te sluit, solank as wat die oorlog in Gaza voortduur. Die polisie het gister ‘n klopjag op die Kataarse uitsaaier se kantoor uitgevoer en op toerusting by die Ambassador-hotel in Jerusalem beslag gelê. Die Israelse regering beweer die netwerk is ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid en ‘n spreekbuis vir Hamas. Al Jazeera het die besluit veroordeel as ‘n kriminele daad wat inbreuk maak op mense se reg op toegang tot inligting.
# Rugby: Die Blitsbokke het sesde geëindig in die Singapoer-sewesreekstoernooi. Hulle het ‘n rustyd-voorsprong van tien-nul verkwis en met ‘n nederlaag van 14-10 teen Argentinië hul kans verspeel. Nieu-Seeland het Ierland met 17-14 gewen om die Singapoer-titel te verower. Die Springbok-afrigter, Philip Snyman sê hulle moet baie verbeter, insluitend hul besluitneming, die omskakeling van geleenthede in punte en om nie van die wedstrydplan af te wyk nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-327-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-306-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….