Nuus 06:00
BULLETIN 3 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s waarsku ‘n koalisieregering kan sukkel
# Solidariteit veroordeel die BELA-wetsontwerp as die finale breuk met die Afrikaanse gemeenskap
# En vandag is Wêreld Persvryheidsdag
# Die graderingsagentskap Moody’s sê Suid-Afrika sal dalk sukkel om te vorder met die land se jare lange uitdagings indien ‘n koalisieregering ná die verkiesing aan bewind kom. Meningspeilings dui daarop dat die ANC sy nasionale meerderheid op 29 Mei kan verloor en tot onder 50-persent sal daal. Dit beteken die regerende party sal ‘n koalisieregering moet vorm. Moody’s sê dit kan die moontlikheid laat ontstaan dat die beleidsrigtings van betreklik radikale partye, insluitend wat nie beleggersvriendelik is nie, ingestel kan word.
# Solidariteit sê die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette is ‘n laaste vertrouensbreuk met die Afrikaanse gemeenskap. Volgens die vakbond sentraliseer die wetsontwerp, wat met die ANC se meerderheid in die Nasionale Raad van Provinsies aangeneem is, besluite oor taal- en toelatingsbeleide, wat minderheidsregte ondermyn. Die vakbond beloof om in samewerking met ander organisasies, regstappe in te stel om die wetsontwerp te betwis. Johnell Prinsloo van Solidariteit sien die wysigings as ‘n front wat daarop gemik is om Afrikaans te marginaliseer en rassekwotas af te dwing in skole:
# City Power het bevestig voorlopige ondersoeke dui op diefstal en vandalisme as oorsake van die brand in ondergrondse tonnels onder die M1. Die woordvoerder Isaac Mangena sê die sekerheid-span het verdagtes konfronteer wat verbrande kabels probeer steel het, wat op ‘n skietgeveg uitgeloop het. Die gesteelde kabels is teruggevind en ‘n klagte is by die polisie ingedien. Mangena sê herstelberamings sal ná vandag se beoordeling gegee word:
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê beide vryheid van spraak en die oppergesag van die reg moet gehandhaaf word te midde van die pro-Palestynse betogings by universiteite in die land. Die meerderheid betogers eis die onttrekking aan maatskappye wat Israel en die oorlog in Gaza ondersteun. Meer as een-duisend-800 mense is sedert die 18de April op kampusse gearresteer. Biden sê Amerika is nie ‘n outoritêre land waar mense gesnoer word nie, maar dis ook nie ‘n wettelose land nie:
# Rugby: Die Bulle het die losskakel Boeta Chamberlain van die Sharks vir volgende seisoen gekontrakteer. Die 25-jarige, wat ook heelagter kan speel, is reeds vyf jaar by die Sharks. Hy het egter hierdie seisoen min uitgedraf onder die Haaie se hoofafrigter, John Plumtree. Chamberlain is die tweede nuwe kontrak vir die Bulle vir volgende seisoen. Die voormalige Stormers-flank en Sale Sharks-ster van Manchester, Cobus Wiese wat na Suid-Afrika terugkeer, sluit ook by die Pretoria-span aan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-138-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-304-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag is Wêreld Persvryheidsdag om op die belangrikheid van joernalistiek en vryheid van spraak te fokus. Vanjaar se tema is ‘n Pers vir die Planeet: Joernalisme in die Aangesig van die Omgewingskrisis. Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het hierdie dag in Desember 1993 afgekondig. Die VN sê vandag moet die basiese beginsels van persvryheid gevier word. Die media moet teen die aanslag op sy onafhanklikheid beskerm word en joernaliste wat met hul lewens geboet het moet gehuldig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….