Nuus 06:00
BULLETIN 2 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ANC sal meer as ‘n volstrekte meerderheid kry
# Turkye wil aansluit by Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel
# En krieket: KSA se bestuur is bekommerd oor die Proteas se hervormingsuitdagings
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa het weereens sy vertroue uitgespreek dat die party meer as 50-persent van die stemme sal kry in die komende algemene verkiesing. Hy het gister Cosatu se hoof- Meidag-saamtrek in die Wes-Kaap toegespreek. Die jongste opname deur die marknavorsingsfirma Ipsos, wat verlede week uitgereik is, voorspel die regerende party gaan 40,2-persent van die stemme kry. Ramaphosa sê die ANC het oor die afgelope 30 jaar bewys hy gee om vir die mense van hierdie land:
Die DA-leier John Steenhuisen het intussen belowe om meer werksgeleenthede te skep as sy party op 29 Mei verkies word. Hy was gister die hoofspreker by die DA se Meidag-viering in Mitchells Plain, Kaapstad. Hy sê sy party het die afgelope vyf jaar agt uit elke tien werksgeleenthede in die land geskep. Steenhuisen het belowe die DA sal oor die volgende vyf jaar meer as 800-duisend nuwe werksgeleenthede in die Wes-Kaap skep:
# Die Raadgewende Kantoor vir Informele Werkers se Stakingsbarometer vir 2023 dui aan daar was 83 hoofsaaklik loonverwante stakings in die land verlede jaar. Die stakings wat aangeteken is, sluit nie veelvuldige betogings in wat by universiteite, hospitale en die Staatsinligtingstegnologie-agentskap plaasgevind het nie. Volgens die barometer is die ander hoofrede vir stakings die soeke na permanente werk. Die barometer het ook die langste staking aangeteken. Dit was 104 dae, van Julie tot November, tussen die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie en die Stad Tshwane.
# Johannesburg Nooddienste sê City Power en die Johannesburgse Padagentskap sal begin om die skade te bepaal nadat ‘n ondergrondse brand gister langs die M1-hoofweg uitgebreek het. Voorlopige bevindings dui daarop dat ‘n kabel wat die Braamfontein-substasie met die Fordsburg-substasie verbind aan die brand geslaan het weens vermoedelike kabeldiefstal en vandalisme. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê Braamfontein, Newtown en Parktown is steeds sonder krag:
# Turkye sê hy wil aansluit by Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel in die Internasionale Geregshof. Dié hof het Israel in Januarie beveel om hom te weerhou van dade wat onder die Volksmoordkonvensie kan val en om te verseker dat sy troepe nie volksmoord teen Palestyne pleeg nie. Turkye sal saam met Colombië amptelik versoek om by die saak teen Israel aan te sluit. Turkye se minister van Buitelandse Sake, Hakan Fidan, sê hulle sal voortgaan om die Palestynse volk in alle omstandighede te ondersteun.
# Krieket: Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Pholetsi Moseki, sê KSA sukkel om ‘n oplossing te vind vir die gebrek aan swart kolwers. Hy sê dit raak die hervormingsbalans van die mans se nasionale T20-span wat in Junie na die T20-wêreldbeker in Amerika en die Wes-Indies gaan. Afrigter Rob Walter se 15-manspan wat Dinsdag bekend gemaak is, het geen swart kolwers nie en net ses spelers van kleur. Dis die minste op ʼn IKR-toernooi sedert die T20-wêreldbeker in 2016 in Indië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-789-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….