Nuus 06:00
BULLETIN 30 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie wil hê die MK-party se beweerde bedrieglike handtekeninge moet vinnig ondersoek word
# Die leier van die ACT, Ace Magashule is vol vertroue voor die verkiesing
# En rugby: Ervare spelers oorheers die Bok-vrouegroep vir die Afrikabeker
# Die Verkiesingskommissie het die polisie gevra om die ondersoek na bewerings dat die MK-party bedrieglike handtekeninge ingedien het om aan die kandidaatnominasievereistes te voldoen, vinnig af te handel. Volgens berigte beweer ‘n voormalige senior lid dat die party die meeste van die handtekeninge vervals het om vir die komende nasionale verkiesing te kwalifiseer. ’n Strafregtelike klag is by die polisie ingedien. Die OVK sê ’n spoedige ondersoek is noodsaaklik vir ‘n vry en regverdige verkiesing.
# Die president-generaal van die African Congress for Transformation, Ace Magashule, sê hy is vol vertroue dat sy party goed kan vaar in die algemene verkiesing. Hy het gister sy veldtog in sy tuisdorp Parys in die Vrystaat voortgesit. Volgens die Verkiesingskommissie se finale nasionale kandidatelys gaan ACT aan volgende maand se verkiesing deelneem, met die voormalige sekretaris-generaal van die ANC as sy nommereen-kandidaat. Magashule sê hulle wil seker maak die behoeftes van swart mense word voorop gestel:
# Kankerpasiënte en -aktiviste sal vandag na die Gautengse Departement van Gesondheid in Johannesburg opruk. Die groep eis die aanwending van die toegekende 784-miljoen-rand vir kankerbehandeling om die agterstand, wat meer as drie-duisend pasiënte raak, reg te stel. Befondsing is sedert Maart 2023 beskikbaar, maar pasiënte ly steeds en van hulle sterf terwyl hulle wag. Dringende optrede word geëis, insluitend die uitkontraktering van dienste en ‘n opdatering oor die vordering met tenders. Die krisis, wat in 2020 begin het, beklemtoon ernstige toerusting- en personeeltekorte, veral by die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal.
# Die regering doen ‘n beroep op Israel om die Freedom Flotilla toe te laat om humanitêre hulp aan Gaza te lewer en wys op Israel se verpligtinge as die besettingsmag. Hierdie oproep volg nadat die Internasionale Geregshof Israel beveel het om dringende hulpverlening aan Gaza moontlik te maak, in die lig van die haglike omstandighede soos ‘n dreigende hongersnood in die gebied. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die regering veroordeel Israel se vlootblokkade van Gaza en bestempel dit as ‘n skending van internasionale reg en belemmering van noodsaaklike hulpverlening:
# Rugby: Ervare Springbok-vrouespelers Nomawethu Mabenge, Lusanda Dumke en Sizophila Solontsi is ingesluit in die nasionale groep vir die Rugby Afrika-vrouebeker volgende maand in Madagaskar. Kwalifikasie vir die 2025 Rugby Wêreldbeker in Engeland is op die spel. Die hoofafrigter, Louis Koen, het ‘n groep van 28 spelers aangewys om na Antananarivo te reis, waar Suid-Afrika teen Kameroen, Kenia en Madagaskar sal meeding om die titel as Kampioene van Afrika. Koen het slegs een nuweling, Sikholiwe Mdletshe, ingesluit. Hy sê hy is tevrede met die span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-344-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise, Thuso Mbedu, en komediant, akteur en filmmaker, Kagiso Lediga, is in ingesluit vir Disney se Mufasa: The Lion King. Dit is ‘n inleiding tot die 2019-herverwerking van The Lion King. Die Suid-Afrikaanse legende, John Kani, keer terug as Rafiki. Beyoncé vertolk die rol van koningin Nala, en haar dogter Blue Ivy die stem is van koning Simba se dogter, Kiara. Die nuwe rolprent, wat van 20 Desember in teaters draai, handel oor Mufasa se kinderjare saam met sy broer Scar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….