Nuus 06:00
BULLETIN 26 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki vra dat aandag gegee word aan die regmatige griewe van Suid-Afrikaners
# Minister Mantashe is gekant teen BHP se voorgestelde oorname van Anglo American
# En rugby: Dan du Plessis bly by die Stormers tot 2026
# Die voormalige president Thabo Mbeki sê dis tyd vir die regering om ag te slaan op die onbetwisbare kommer van burgers. Hy het vroeër die ANC kritiseer oor sy hantering van korrupsie maar het nou teruggekeer om die party onder president Cyril Ramaphosa te steun. Mbeki, wat in Soweto vir die ANC stemme gewerf het, het burgers aangemoedig om in die komende verkiesing vir die regerende party te stem:
# Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe is gekant teen BHP Group Limited se voorgestelde oorname van Anglo-American. Dié Australiese mynreus het ‘n oorname-aanbod van sowat 743-miljard-rand aangebied. Die transaksie hang af van die ontbondeling van Anglo American Platinum en Kumba Iron Ore. Mantashe sê Suid-Afrika se ervaring met BHP was nie positief nie, daarom sou hy nie die oorname ondersteun nie.
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, stel vandag ‘n onafhanklike ondersoekende regsfirma bekend by die Daveyton Skills-skool. Die woordvoerder van die departement, Steve Mabona, sê die firma se mandaat is om die dood te ondersoek van Siphamandla Peterson en Sibusiso Sibiya, wat verlede week Maandag verdrink het tydens ‘n kamp by die Rock Falls Adventure Ranch in Centurion:
# Die premier van Haïti, Ariel Henry het bedank, wat die weg baan vir ‘n nuwe regering vir die Karibiese land. Hy het verlede maand ingestem om uit te tree nadat gewapende groepe sy terugkeer na die geweldgeteisterde land geblokkeer het. ’n Oorgangsraad, bestaande uit sewe stemgeregtigde lede en twee waarnemers sonder stemreg, het die opdrag om ’n nuwe premier en kabinet aan te wys. Volgens die Verenigde Nasies is meer as eenduisend-500 mense in die eerste drie maande van vanjaar in Haïti vermoor.
# Rugby: Die senter, Dan du Plessis, beplan om in Kaapstad te bly tot minstens 2026. Hy het sy kontrak met die Stormers verleng, nadat hy sy hele professionele loopbaan vir dié span en die Westelike Provinsie gespeel het. Die oud-Springbok, Michael du Plessis, se seun het 64 wedstryde vir die Stormers gespeel nadat hy hul ook op ouderdomsgroepvlak verteenwoordig het. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê die 29-jarige is ‘n natuurlike balspeler wat perfek by hul spelmodel pas, en hierdie uitbreiding bied hom die kans om sy potensiaal te verwesenlik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-241-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Aanhangers van Comic-Con Kaapstad, kan uitsien na ‘n onvergeetlike ervaring van popkultuur en speletjies, terwyl besoekers sal kan skouerskuur met bekendes van hierdie wêreld. Die trekpleister by vanjaar se geleentheid is die akteur Sean Gunn, bekend vir sy rolle in die Marvel Cinematic Universe en Guardians of the Galaxy. Lesley-Ann Brandt, geliefd vir haar vertolking van Mazikeen in die treffertelevisiereeks Lucifer, sal ook daar wees. Die fees duur van môre tot Maandag by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….