Nuus 06:00
BULLETIN 25 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor staak afleggings tydelik
# Louis Liebenberg se verkiesingsveldtog kry ‘n knou
# En rugby: Die Junior Springbokke vertrek na Australië vir die Onder 20 Rugbykampioenskap
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het met vakbonde ooreengekom om afleggingskennisgewings vir ten minste 12 maande terug te trek, wat ongeveer vier-duisend-700 werksgeleenthede red. As deel van die ooreenkoms het die Poskantoor se sakereddingspraktisyns om steun aansoek gedoen by die Werkloosheidsversekeringsfonds se Tydelike Indiensnemingsverligtingskema. Die skema sal 75-persent van werkers se salarisse betaal, en die Poskantoor die res. Reddingspraktisyn Anoosh Roopla sê daar word steeds van werkers verwag om tuis te bly hangende die uitslag van die aansoek.
# AfriForum het by die Departement van Indiensneming en Arbeid kommentaar ingedien rondom konsepregulasies oor voorgestelde sektorale numeriese rasteikens. Hierdie regulasies, wat in Februarie gepubliseer is, se spesifieke rasteikens het teenstand ontvang. Ernst van Zyl van AfriForum stel ‘n vasgestelde sperdatum voor vir die beëindiging van rasse-diskriminerende wetgewing, en pleit vir die afskaffing daarvan in alle fasette van die samelewing. Die publiek het tot 2 Mei kans om kommentaar te lewer:
# Die DA sê hy is bekommerd oor die stand van regspleging in Johannesburg. Dit volg nadat ‘n lasbrief vir die arrestasie van die stadsbestuurder, Floyd Brink, gebrekkig en foutief was en nie gister uitgevoer kon word nie. Die lasbrief hou verband met ‘n geskil tussen die stad en ‘n inwoner oor ‘n betwiste diensterekening. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA, sê die stad het nou die hof genader om die uitvoering van die lasbrief tersyde te stel:
# ‘n Diamanthandelaar en onafhanklike kandidaat vir die Parlement, Louis Liebenberg, se verkiesingsveldtog het ‘n knou gekry nadat balju’s op sy Kaapstadse huis en Kemptonpark-kantore toegeslaan en op bates beslag gelê het. Volgens News24 was die klopjagte daarop gemik om bates op te spoor om beleggers terug te betaal. Die klopjagte, kort ná Liebenberg se partybekendstelling, laat vrae ontstaan oor die uitwerking daarvan op sy veldtog. Liebenberg, bekend vir sy steun aan ekonomiese hervorming en die herverdeling van minerale rykdom, het beloof om saam met oudpresident Jacob Zuma se MK-party te werk, indien hy verkies word.
# Die Amerikaanse president Joe Biden het die 1,81-duisend-miljard-rand buitelandse hulppakket aan Oekraïne, Israel en Taiwan onderteken en sê dit is ‘n oorwinning vir wêreldvrede. Die pakket sluit in wetgewing om op Russiese bates in Westerse banke beslag te lê, en nuwe sanksies teen Rusland, Iran en China. Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky sê die hulp kom op ‘n tyd wanneer hulle lugverdedigingstelsels en langafstandvermoëns baie nodig het. Biden sê die VSA sal onmiddellik nuwe wapens en toerusting na Oekraïne stuur:
# Rugby: Die Junior Springbokke het na Australië vertrek vir die Onder 20 Rugbykampioenskap wat van volgende Donderdag af tot 12 Mei in Queensland plaasvind. Hulle sal teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië se jong spanne uitdraf in die Sunshine Coast-stadion. Die Baba-bokke het in Johannesburg vir dié toernooi voorberei, wat die eerste van twee internasionale toernooie is waaraan hulle vanjaar gaan deelneem. Wêreldrugby se jaarlikse Onder 20-kampioenskap word in Junie en Julie in die Wes-Kaap gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-412-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….