Nuus 06:00
BULLETIN 23 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onderneem om mediavryheid te beskerm teen die ANC se pogings tot manipulasie
# ‘n Israelse generaal vra vir ‘n kommissie van ondersoek na die 7 Oktober-aanvalle
# En padwedlope: Gerda Steyn kan ’n opdraande stryd verwag in die Olimpiese marathon
# Die DA beloof om deur parlementêre kanale te veg teen die ANC se beweerde media-manipulasie en joernaliste te beskerm teen afdwinging. Hy moedig die Nasionale Redakteursforum aan om die manipulasie te veroordeel, soos onthul in ‘n uitgelekte opname van ‘n ANC-nasionale uitvoerende komiteevergadering. Ashor Sarupen van die DA beskou president Cyril Ramaphosa se opdrag om die mediagesprek te beheer en negatiewe beriggewing te onderdruk as ‘n bedreiging vir mediavryheid en demokrasie:
# Die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge het die uitspraak in die Padongelukkefonds se saak teen die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika verwelkom. Die Hooggeregshof in Pretoria het die fonds se aansoek van die hand gewys om die rekeningkundige standaard te verander wat gebruik word om sy jaarstate saam te stel. Die verandering het die fonds se laste met 90-persent verminder, van 331-miljard-rand in 2019/2020 tot 34-miljard-rand in 2021/2022. Skoor sê die fonds se direksie en uitvoerende beamptes moet die regskoste van die saak betaal.
# Die beskuldigdes in die moord op die Rand Water-bestuurder Teboho Joala en sy lyfwag, Sifiso Shange, doen volgende week aansoek om borgtog. Khulekani Mdluli, Zamokuhle Ntombela en Lindani Mtshali het in die Landdroshof in Lenasia verskyn op twee aanklagte van moord met voorbedagte rade en drie van poging tot moord. Die slagoffers is in Januarie doodgeskiet tydens ‘n skoolskenkingsgeleentheid in Zakariyya Park, Johannesburg. Joala is agt keer geskiet voor laerskoolkinders.
# Die Stad Kaapstad sê hy belê hierdie jaar 35-miljoen-rand in Projek 1 000-leerlingskappe, om polisiëringshulpbronne te bevorder en misdaad te help bekamp. Die projek bou voort op die werk van die LEAP-program in vennootskap met die Wes-Kaapse regering. Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê beleggings toon belowende resultate, veral om die polisie te help om bende-, vuurwapen- en dwelmmisdaad te bekamp:
# Die Intelligensiehoof van die Israelse weermag vra na sy bedanking ‘n kommissie van ondersoek na die gebeure van 7 Oktober verlede jaar. Generaal-majoor Aharon Haliva erken sy intelligensiedirektoraat was nie opgewasse vir hulle taak nie. Dit volg ná berigte dat eenhede vroue-dienspligtiges in waarnemingsbasisse op die grens met Gaza maande voor die tyd gewaarsku het teen ‘n aanval wat op hande is, maar ignoreer is. Talle van die vroue was onder die meer as ‘n duisend mense wat dood is toe Hamas die grens oorgesteek het.
# Padwedlope: Suid-Afrika se goue vrou van langafstande, Gerda Steyn, sal moet uithaal as sy indruk wil maak in die Olimpiese marathon in Parys. Dit volg nadat die verdedigende kampioen Peres Jepshirchir Sondag ‘n nuwe wêreldrekord opgestel het in die Londen-marathon. Die Keniaan het klaargemaak in twee-uur-16-minute-en-16-sekondes, ‘n verbetering van 45-sekondes op die rekord uit 2017. Steyn se beste tyd oor die 42-kilometer wedloop is twee-uur-24-minute-en-drie-sekondes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-132-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….