Nuus 06:00
BULLETIN 6 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa staan die appèl om die ampsklaginterdik ter syde te stel teen
# Die regering versoek Chinese werkgewers om aan Suid-Afrika se arbeidswette te voldoen
# En Iran en Oman kom ooreen oor die geografiese kenmerke van ‘n skeepvaartroete in die Straat van Hormoes
# President Cyril Ramaphosa het die regstreekse dringende appèl wat by die Konstitusionele Hof ingedien is, teengestaan. Die appèl poog om die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat die ampsklagverrigtinge teen hom staak, tersyde te stel. Die Parlement se Ampsklagkomitee en die politieke partye, die ATM, EFF, MK-party en UAT, het dringende aansoeke ingedien om die interdik tersyde te stel. In ‘n beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is, sê Ramaphosa niks sal verlore gaan as die Parlement wag vir die uitslag van die volgende stap in sy regsgeding teen sy ampsklag voordat hulle met die ondersoek voortgaan nie.
# Die adjunkminister van Indiensneming en Arbeid, Jomo Sibiya, het die regering se verbintenis tot die versterking van bande met die Chinese sakegemeenskap herbevestig terwyl die nakoming van Suid-Afrika se arbeidswette bevorder word. Tydens ‘n vergadering met Chinese sakeleiers in Kaapstad het Sibiya ondernemings aangespoor om werkersregte te respekteer, onwettige arbeidspraktyke te beëindig en te verhoed dat ongedokumenteerde buitelandse burgers in diens geneem word. Hy het ook ondernemings geprys wat met die departement saamgewerk het om nakoming te verbeter.
# Die Madlanga-kommissie het gehoor Dereleen James van ActionSA was in besit van topgeheime dokumente wat verbind is aan ‘n ondersoek deur die Direktoraat Teen Korrupsie. Drushantha Ramsamy van IDAC het getuig James sou ‘n beëdigde verklaring en bewyse in die Artikel 27-ondersoek indien, maar het nie saamgewerk nie. Ramsamy sê die hoofondersoeker Dylan Perumal het ‘n “Topgeheim” sekuriteitsassessering bekendgemaak waarby die voorsitter van die Parlement se Polisieportefeuljekomitee, Ian Cameron, betrek is, en wat glo James se stilswye verklaar het.
# Die DA in Gauteng sê die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, moet onmiddellik afgedank word. Hy en vier ander is gister in hegtenis geneem in verband met die moord op Emmanuel Mbense in 2022. Mbense is na bewering in Brakpan doodgemartel voordat sy liggaam in ‘n dam gegooi is. Dit is die vierde keer in vier maande dat Mkhwanazi strafregtelike aanklagte in die gesig staar. Khathutshelo Rasilingwane van die DA sê openbare vertroue in die regstelsel vereis dat aanspreeklikheid nie langer uitgestel word nie:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê hulle het ‘n ooreenkoms met Oman bereik oor die geografiese eienskappe van ‘n skeepsroete in die Straat van Hormoes. Kommersiële verkeer deur die Straat is erg ontwrig, met slegs agt skepe wat Maandag deurgegaan het. Dit is in vergelyking met ongeveer 130 skepe per dag voordat die VSA-Israel-oorlog teen Iran in Februarie uitgebreek het. Die ministerie sê die ooreenkoms alleen kan nie veilige deurgang deur die Straat waarborg nie, terwyl ‘n Amerikaanse vlootblokkade en “ander aggressiewe en dreigende optrede” van krag bly.
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport sê die waarskynlikheid van die gebruik van verbode middels neem toe omdat daar soveel op die spel is. Dit volg nadat twee jong stutte, Kai Pratt en Deon Botes, onlangs positief getoets het vir anaboliese steroïede. Botes is vir vier jaar geskors, terwyl Pratt versoek het dat sy B-monster getoets word. Die uitvoerende hoof van die instituut, Khalid Galant, sê die gewildheid en televisiedekking van skolerugby plaas toenemende druk op jong spelers wat ‘n loopbaan in rugby beplan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-580-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-248-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….