Nuus 06:00
BULLETIN 23 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê ‘n ad hoc-komitee moet Mkhwanazi se bewerings ondersoek
# Solidariteit dring aan dat FlySafair vlieëniers se gesinstyd en rus eerste moet stel
# En die Amerikaanse Departement van Justisie gaan met Ghislaine Maxwell vergader oor die Epstein-debakel
# Die parlementêre portefeuljekomitees oor die Polisie en Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het ‘n konsepverslag aanvaar oor die versoek om bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, te ondersoek. Die verslag beveel aan dat die Nasionale Vergadering ‘n ad hoc-komitee stig om na die bewerings te kyk. Mkhwanazi het bewerings gemaak van korrupsie, politieke inmenging en wanpraktyke, spesifiek teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Die komitees sê gegewe die erns van die aangeleentheid, sal ‘n gefokusde, veelparty-ad hoc-komitee ‘n deursigtige, deeglike en billike proses verseker.
# Die vakbond Solidariteit sê FlySafair-vlieëniers vra voor vandag se mediasiegesprekke, vir beter werksomstandighede en meer tyd met hulle gesinne. Die dispuut is nou voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie en probeer om die voortgesette uitsluiting op te los. Voorstelle sluit in gewaarborgde afnaweke, skofruil-moontlikhede, en vergoeding wanneer daar op rusdae gewerk word. Gideon du Plessis van Solidariteit glo ‘n regverdige reëling kan die uitsluiting keer, werksaamhede bestendig en vertroue tussen vlieëniers en die bestuur herstel:
# Transnet sê sy onmiddellike prioriteit is om gefokusde aksies in te stel om sy operasionele en finansiële prestasie te verbeter. S&P Global het die staatsonderneming se kredietgradering afgegradeer weens ‘n jaarlikse kontantverbruik van 13,5-miljard-rand en die versuim om volumeteikens te bereik. Transnet sê hy het egter aansienlike vordering gemaak met hervormings, waarop sy strategie fokus om operasionele doeltreffendheid te verbeter. Die onderneming sê regeringswaarborge is noodsaaklik om broodnodige kapitaalbeleggings te finansier.
# Die DA eis dat die hoofsweep van die Stad Johannesburg, Sithembiso Zungu, onmiddellik bedank hangende ‘n interne ondersoek na bewerings dat hy bande met die stad se konstruksiemafia het. Die party sê Zungu word betrek by die oponthoud met ‘n opknappingsprojek van 135-miljoen rand by ‘n skool. Hy het skynbaar fasiliteringsfooie daarvoor geëis. Chris Avant-Smith van die DA sê die raad se speaker, Margarete Arnolds, moet vinnig optree om korrupsie te bekamp:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie gaan met Ghislaine Maxwell, die medepligtige van die seksoortreder Jeffrey Epstein, vergader te midde van pogings deur die Trump-administrasie om ‘n debakel oor die hantering van die saak te verhoed. Maxwell, ‘n Britse sosiale vlinder, dien 20 jaar tronkstraf uit nadat sy skuldig bevind is aan sekshandel met minderjariges namens Epstein. Hy is in 2019 as verhoorafwagtende in ‘n tronk in New York dood. Amerika se adjunk-minister van Justisie, Todd Blanche, sê hy het met Maxwell se prokureurs geskakel en hoop om eersdaags met haar te vergader.
# Rugby: Westelike Provinsie se hoofafrigter, Labeeb Levy, gaan nie spelers in die Curriebeker-kompetisie gebruik wat moontlike kandidate vir die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap is nie. Brok Harris, wat onlangs afgetree het as stut van die Stormers, is WP se voorspeler-afrigter. Hy sê die VRK-spelers begin met voorbereiding vir die seisoen en die Curriebeker-span sal fokus op jong spelers en dalk spelers uit die uitgebreide amateur-groep oorweeg. WP speel Saterdag in die eerste ronde teen sy aartsvyand, die Bulle, in Kaapstad. Die eindstryd is op 20 September.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-247-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-430-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….