Nuus 07:00
BULLETIN 30 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Solidariteit Beweging sê die regering het nie die politieke wil nie
# Die DA vra vir spoedige dissiplinêre optrede teen die Tembisa-amptenare
# En uitspraak in die vuurwapensaak teen Malema en Snyman sal vandag voortgaan
# Die Solidariteit Beweging sê ‘n handelsooreenkoms met Amerika is binne bereik, maar die Suid-Afrikaanse regering het nie die politieke wil om dit te doen nie. Die beweging is die oorhoofse liggaam vir Afrikaanse belangegroepe soos AfriForum en Solidariteit, en het die naweek ʼn opvolgbesoek aan die Withuis gebring om bykomende inligting oor sy voorgestelde handelsraamwerk te verskaf. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê die raamwerk sluit politieke en handelskomponente in wat nodig is vir ʼn positiewe ooreenkoms:
# Die Nywerheid-ontwikkelingskorporasie oorweeg ‘n aanbod van 8,5-miljard-rand vir die beheer van ArcelorMittal se Suid-Afrikaanse bedrywighede. Volgens Bloomberg kan die ooreenkoms, insluitend skuldterugbetaling, ‘n einde bring aan twee jaar se gesprekke met die regering en die wêreldwye staalvervaardiger. Dit volg ná ArcelorMittal se plan om sy Newcastle- en Vereeniging-aanlegte te sluit, wat drie-duisend-500 werksgeleenthede in gevaar stel. Die korporasie kan ook globale vennote soek om die aanlegte te bestuur. Geen finale besluit is nog geneem nie.
# Die DA sê die Gautengse Gesondheidsdepartement moet dringende tugstappe doen ná die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse bevindings rondom korrupsie by die Tembisa-hospitaal. Die verslag het drie groot sindikate blootgelê wat meer as twee-miljard-rand geplunder het, insluitend kontrakte wat verbind word met president Cyril Ramaphosa se neef, Hangwani Morgan Maumela, en Vusimusi “Cat” Matlala. Jack Bloom van die party waarsku die grootkoppe mag nie geregtigheid ontsnap nie:
# Uitspraak in die vuurwapensaak teen EFF-leier Julius Malema en sy gewese lyfwag, Adriaan Snyman, word vandag in die Oos-Londen-landdroshof verwag. Die twee word onder meer beskuldig dat hulle die Vuurwapenwet oortree het. Malema het na bewering in 2018 by ʼn saamtrek in Mdantsane ʼn vuurwapen naby ʼn skare EFF-ondersteuners afgevuur. Voorsittende landdros Twanet Olivier het gister deur al die bewyse gegaan wat tydens die verhoor voorgelê is en sê dis belangrik om konteks te gee.
# Die Britse minister van Binnelandse Sake het streng reëls voorgestel vir migrante wat in die Verenigde Koninkryk wil woon, terwyl die regerende Arbeidersparty by sy jaarlikse konferensie stemme wil terugwen. Migrante wat onbepaald in die land wil aanbly, moet werk hê, mag nie voordele eis nie en moet gemeenskapswerk aanvaar. Die reëls is ontwerp om kiesers terug te wen wat neig na die ver-regse, anti-immigrante Reform UK-party, wat volgens meningspeilings toenemend ondersteun word. Confronting Reform, die vuurvreter Nigel Farage se party, is hoog op die agenda van die Arbeidersparty se vergadering van vier dae in Liverpool.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Fifa se besluit om drie punte by Bafana Bafana af te trek in die Wêreldbeker-kwalifiseerders, is uiters teleurstellend. Suid-Afrika word gestraf omdat hy in Maart ʼn speler wat nie kwalifiseer nie, Teboho Mokoena, in die wedstryd teen Lesotho gebruik het. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging moet 215-duisend-rand betaal, terwyl Mokoena ʼn waarskuwing ontvang het. Mckenzie sê sy departement sal ʼn deeglike ondersoek instel na die onbevoegdheid wat tot die straf gelei het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-696-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-842-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….