Nuus 11:00
BULLETIN 17 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
# John Steenhuisen kritiseer die Afrikaner-emigrasie na die VSA
# OUTA waarsku teen ‘n herhaling van SETA-wanbestuur en -korrupsie
# En in motorsport: Lewis Hamilton en Charles Leclerc kla oor Ferrari-probleme op sy tuisbaan
# Die DA-leier John Steenhuisen het Afrikaners wat na die VSA geëmigreer het onder ‘n vlugtelingprogram gekritiseer en noem dit ‘n slegte keuse. Steenhuisen sê die VSA se besluit om vlugtelingstatus aan 49 Afrikaners uit Suid-Afrika toe te ken, is gegrond op verkeerde inligting, aangesien hulle nie aan die definisie van vlugtelinge voldoen nie. Hy het ook hul geloofwaardigheid as boere bevraagteken en beklemtoon hoe belangrik dit is om alle boere te behou ter ondersteuning van die landbousektor:
Steenhuisen is intussen steeds optimisties oor handelsgesprekke met die VSA. Hy is een van vier ministers wat president Cyril Ramaphosa vergesel wanneer hulle die Withuis volgende Woensdag besoek. Steenhuisen waarsku dat ‘n voorgestelde 30-persent tarief op Suid-Afrikaanse uitvoere mededingendheid kan benadeel, en sê sulke heffings kan Suid-Afrika effektief van die Amerikaanse mark uitsluit, veral vir sitrus en wyn. Hy het beklemtoon dat die regering druk uitoefen vir gunstige bepalings om marktoegang te beskerm en ekonomiese gevolge vir sleutel-landbousektore te voorkom:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik waarsku teen ’n herhaling van wanbestuur en korrupsie in die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerhede, ná die onttrekking van polities-aangestelde raadsvoorsitters. Die organisasie sê die vaardigheidsontwikkelingssektor ly al lank onder swak toesig, finansiële wanbestuur en plundering. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, doen ’n beroep op die sakewêreld, akademici en die burgerlike samelewing, om etiese en bekwame individue vir die vakante poste te benoem:
# Die Polisie ondersoek ‘n gewapende rooftog wat gemik was op ‘n ondersoekbeampte wat met die Senzo Meyiwa-moordverhoor verbind word. Die beampte was in ‘n staatsvoertuig en is in Lombardy-Oos in Johannesburg, in ‘n lokval gelei. Hy het ontsnap nadat aanvallers hom in die kattebak van hul motor probeer dwing het. Hulle het met ‘n staatsvuurwapen, geheuestokkies, en afskrifte van saakdokumente weggekom. Polisiekommissaris Fannie Masemola het bevestig geen sensitiewe bewyse is weg nie en hou vol die verhoor word nie geraak nie. Die motief word steeds ondersoek.
# Motorsport: Die Ferrari-renjaers Lewis Hamilton en Charles Leclerc het gister op hulle tuisbaan gekla oor ‘n gebrek aan spoed en remprobleme nadat hulle sesde en elfde was in die eerste oefening vir die Italiaanse Grand Prix op Imola. Leclerc was ongelukkig met sy valhelm en die motor se remme, terwyl die sewemalige wêreldkampioen Hamilton ook oor remprobleme gekla het. Dit is ‘n belangrike naweek vir Ferrari wat hoop om vir die tweede keer die seisoen die podium te haal en die momentum te herwin wat hulle verlede jaar ernstige uitdagers vir die vervaardigerstitel gemaak het.
# En ten slotte, gholf: Jhonattan Vegas van Venezuela het sy voorsprong behou na die tweede rondte by die Amerikaanse PGA-kampioenskap op Quail Hollow in Noord-Carolina. Vegas het gister ‘n een-onder 70 in sy tweede rondte aangeteken en is nou agt onder baansyfer, twee houe voor Matt Fitzpatrick van Engeland, die Fransman Matthieu Pavon en Kim Si-woo van Suid-Korea. Christiaan Bezuidenhout en Garrick Higgo lei die aanval vir Suid-Afrika en is gesamentlik sewende nadat hulle onderskeidelik vier onder baansyfer, 69 en 68 aangeteken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….