Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 5 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrikaners word opnuut aangemoedig om Reach for a Dream se Pantoffeldag op 30 Mei te ondersteun. Deur bloot ‘n plakker van 20-rand te koop, pantoffels te dra en die saak te ondersteun, kan mense help om vreugde te bring aan kinders met lewensbedreigende siektes. Reach For A Dream se bestuurshoof, Julia Sotirianakos, sê elke plakker wat verkoop word, help om drome te verwesenlik, hetsy deur die kinders te help om hul held te ontmoet, in ‘n vliegtuig te vlieg of iets te ontvang waarvan hulle gedroom het:
# ‘n Opwindende musiekteaterproduksie wat die lewe van die bevrydingstryd-ikoon Chris Hani uitbeeld, tot en met sy ontydige dood in 1993, sal volgende week in die Dumisani Smart-teater in Germiston, Gauteng, aangebied word. Die Stad Ekurhuleni sê hulle het April die Chris Hani-maand gedoop, ‘n tydperk van die jaar wat gewy is aan die herdenking van die lewe van Hani. Die metro se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê die musiekproduksie is saamgestel deur plaaslike kunstenaars van die Dumisani Masilela-teater:
# Kaapstad se Sentrale Stadsverbeteringsdistrik bied gratis eerstehulp en wondsorg aan hawelose mense. ‘n Veldwerker, Chuma Dyasoni, het ná sy opleiding ‘n weeklikse sorgtafel by die Service Dining Rooms in Canterburystraat opgestel waar kwesbare inwoners kos en mediese sorg kan ontvang. Dyasoni wil daarmee hawelose mense bemagtig. Hy het lof ontvang vir sy toewyding aan gemeenskaps-opheffing. Ondersteuners van die program word aangemoedig om die 17de van die maand aan die veldtog ‘n Nag op Straat deel te neem.
# Die veertienmalige Grammy-wenner, Lady Gaga, se konsert in Brasilië het die rekord oortref vir die konsert met die hoogste bywoning deur ‘n vroulike kunstenaar ooit. Saterdag se gratis konsert op Copacabana-strand in Rio de Janeiro het ‘n skare van 2,5 miljoen mense gelok, wat Madonna se vorige rekord van 1,6-miljoen van verlede jaar oortref het. Lady Gaga het 12 jaar gelede laas in Brasilië opgetree. Die 39-jarige het klassieke treffers, soos Poker Face en Alejandro gesing,, asook snitte van haar nuutste album, Mayhem.
# En ten slotte: Die jongste fliek van Marvel Cinematic Universe, Thunderbolts, het gehore en kritici beïndruk en met sy openingsnaweek die beste gevaar by die loket. Die rolprent van regisseur Jake Schreier se sterbelaaide rolverdeling sluit in Florence Pugh, Sebastian Stan en Wyatt Russell. Die vampierriller Sinners van Ryan Coogler was die derde naweek tweede by die kaartjiekantoor, met A Minecraft Movie derde. Ben Affleck se aksieriller The Accountant 2 het na die vierde plek afgeskuif, en Sony se R-gegradeerde gruwelfliek Until Dawn is steeds vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….