Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 10 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Transnet se Nasionale Hawe-owerheid het ‘n opgradering van 60-miljoen-rand van die motor-beslagterrein by die hawe van Oos-Londen voltooi. Uitvoerende hoof Phyllis Difeto sê die projek het die hawe verdiep en versterk, wat nou twee voertuigvragskepe van 20-meter gelyktydig kan laat vasmeer. Met die vergrote vermoë van 790-duisend voertuie per jaar, versterk die hawe sy rol as ‘n kern-punt vir die breër motorbedryf. Difeto sê die opgradering verbeter doeltreffendheid en is in ooreenstemming met nasionale infrastruktuurdoelwitte.
# Sowat 13 kinders in Gauteng het die afgelope jaar kunsbene ontvang. Dis moontlik gemaak deur die Star Foundation to Jumping Kids se skenking van 600-duisend-rand. Elke kind het deur die skenking ‘n kunsbeen ontvang. Die veldtog ondersteun kinders wat deur siekte of beserings geraak is, met die hoop dat hulle hul fisiese uitdagings sal oorkom en ‘n vol lewe sal lei.
# Die organiseerders van Comic-Con Africa se geleentheid in Johannesburg sê ondersteuners kan steeds ‘n vol program verwag al vind vanjaar se geleentheid ʼn maand vroeër plaas. Dit word in Augustus aangebied weens beplande opknapping aan die Johannesburgse uitstalsentrum. Die fees sal volgende jaar weer soos gewoonlik in September plaasvind. Die organiseerders sê meer as 70-duisend ondersteuners sal onder meer speletjies en eSport-toernooie, strokiesprente en handelskaartspeletjies geniet. Comic-Con Kaapstad vind steeds volgende maand plaas.
# Universal Studios beplan om sy eerste temapark in Europa in Bedfordshire, Engeland, op te rig. Die park sal in 2031 sy hekke oopgooi as die grootste toeriste-aantreklikheid in Brittanje, en sal na verwagting in sy eerste jaar 8,5-miljoen besoekers lok. Universal het reeds temaparke in Orlando en Los Angeles in Amerika, asook in Japan, Singapoer en China. Brittanje se minister van Finansies, Rachel Reeves, sê ‘n voorstel sal aan die regering voorgelê word en bouwerk sal na verwagting volgende jaar begin:
# En ten slotte: Die basketbal-ikoon LeBron James is die eerste beroeps-mansatleet wat deur die speelgoedmaatskappy Mattel as ‘n Ken-pop verewig is. Hierdie spesiale uitgawe wat in vennootskap met die LeBron James-familiestigting vervaardig is, vang die speler van Los Angeles Lakers se unieke klerestyl vas en is selfs langer as die standaard Ken-pop. James sê dit is ’n geleentheid om die invloed te erken van rolmodelle wat selfvertroue inboesem, drome inspireer en aan kinders wys dat hulle ook groot dinge kan bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….