Goeienuus 14:00
BULLETIN 31 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaner Tyla, Doechii en Erykah Badu is onder dié wat toekennings ontvang het op Billboard se Vroue in Musiek-geleentheid in Kalifornië. Dit vereer invloedryke vroue in musiek, van kunstenaars tot leiers in die bedryf. Tyla, wat met haar treffer Water op die musiektoneel beland het, het die Impak-toekenning ontvang. Doechii, wat onlangs ‘n Grammy vir beste rap-album vir haar langspeler Alligator Bites Never Heal, opgeraap het, het met die Vrou van die Jaar-toekenning weggestap. Badu is met die Ikoon-toekenning vereer.
# Koninginne van sewe Suid-Afrikaanse koninkryke het ooreengekom om saam te werk en ʼn gemeenskaplike bydrae tot vrede en ontwikkeling in Suid-Afrika saam te stel. Hulle het by die Universiteit van Pretoria vergader vir opleiding in bemiddeling en geskil-oplossing, en om hul rolle in konflik oor koninklike opvolging en kwessies te verwoord. Die universiteit sê koninginne speel ʼn belangrike vredesrol in hul gemeenskappe om geskille op te los. Hy sê die taak vereis buitengewone vaardigheid en takt in oorheersend patriargale omgewings.
# President Cyril Ramaphosa het die Moslem-gemeenskap ‘n vreugdevolle Eid-ul-Fitr toegewens wat die einde van die vas-maand van Ramadan aankondig. Die Verenigde Ulama-raad van Suid-Afrika het bevestig die maan, wat die einde van die geseënde maand van Ramadan aankondig, is gisteraand in die land gesien. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president doen ‘n beroep op almal om die gedeelde waardes na te volg wat almal verenig, soos vrygewigheid, meelewendheid en empatie:
# Die Bethsaïda-bediening, Missionvale-sorgsentrum, die Umphanda-stigting vir Outisme en die Ekuphumleni-tehuis vir bejaardes in die Oos-Kaap het skenkings van spesiale komberse ontvang. Dit is gebruik om die wêreld se grootste gelukskombers te skep. Suid-Afrikaners het verlede maand deelgeneem om die kombers te maak om die nalatenskap van wyle oudpresident Nelson Mandela te eer. Dit is by die Nelson Mandela-universiteit se kampus in Tweedelaan onthul. Skenkings van komberse aan ander organisasies in die land duur dié maand voort.
# En ten slotte: Amazon MGM se aksie-rolprent A Working Man met Jason Statham in die hoofrol is boaan die Noord-Amerikaanse loketverdienste tydens sy openingsnaweek. Hy speel ‘n vereerde militêre veteraan wat van uittrede terugkom nadat mense-handelaars sy werkgewer se dogter ontvoer. Snow White van Disney-ateljees is nou tweede, gevolg deur ‘n prent oor Jesus en sy dissipels, The Chosen: Last Supper. Universal en Blumhouse se gruwel-prent, The Woman in the Yard, het in die vierde plek geopen, en A24 se Death of a Unicorn beklee die vyfde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….