Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 18 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Drie skone kunste-studente van die Nelson Mandela-universiteit, Sarah Walmsley, Jeffrey Allan en Jonathan van der Walt, het ‘n futuristiese trofee wat van hars gemaak is vir die nasionale skole SA20-kriekettoernooi ontwerp. Die beeldhouwerk wat in opdrag van Krieket Suid-Afrika gemaak is, is die naweek aan die seuns- en meisie-wenspanne in Tshwane oorhandig. Die trofee het drie regterhande wat in die lug opwys, gemaak van deurskynende hars wat gekleur is. Walmsley sê die skeppende proses is ‘n samevoeging van ouer en nuwe kunstegnieke, insluitend drie-dimensionele drukwerk.
# Die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse DJ, Black Coffee, het vir sy 49ste verjaardag ‘n eksklusiewe veiling gehou om geld in te samel vir sy jongste projek, die Black Coffee-musiek-akademie. Die veiling het unieke items ingesluit soos ‘n beperkte uitgawe van ‘n Rolex en ‘n kunswerk van Nelson Makamo. Altesaam 3,1-miljoen-rand is ingesamel. Die musikant sê die akademie gaan musiekonderrig op tersiêre vlak aanbied wat onder meer musiekproduksie en die kommersiële aspekte van musiek insluit:
# Taylor Swift, Benson Boone en SZA is almal wenners op die 12de jaarlikse iHeartRadio-musiektoekennings in Los Angeles. Swift het agt toekennings ontvang, insluitend as beste kunstenaar van die jaar. Gracie Abrams is die beste deurbraak-kunstenaar van die jaar terwyl Jelly Roll die beste country-kunstenaar van die jaar is. SZA is die derde agtereenvolgende keer aangewys as R&B-kunstenaar. Benson Boone se Beautiful Things is liedjie van die jaar. Lady Gaga is die vernuwer van die jaar terwyl Mariah Carey die ikoontoekenning ontvang het.
# Die komediant Conan O’Brien keer terug as seremoniemeester vir die 98ste Oscar-toekennings. Die aankondiging volg twee weke na hy sy eerste Oscars aangebied het, wat meer as 19-miljoen kykers gelok het en van dit die nommer een spitstyd-vermaaklikheidsuitsending vir die 2024/’25-seisoen gemaak het. Die uitsending het ook sosiale media oorheers, met 104,2 miljoen interaksies, wat beide die Grammys en die Super Bowl in aanlyn betrokkenheid oortref het. Die 98ste Oscar-toekennings sal op 15 Maart 2026 in die Dolby-teater in Los Angeles gehou word.
# En ten slotte: Paramount se aksiekomedie, Novocaine, met Jack Quaid in die hoofrol was boaan die Noord-Amerikaanse lokettrefferlys in sy debuutnaweek. Warner Brothers se wetenskapfiksie-ruimte-rolprent Mickey 17, met Bong Joon-ho as regisseur, het na die tweede plek teruggesak met Steven Soderbergh se nuwe rolprent, Black Bag, in die derde plek. Captain America: Brave New World was op nommer vier in sy vyfde naweek en A Looney Tunes Movie: The Day the Earth Stood Still in die vyfde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….