Goeienuus
BULLETIN 4 April
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Santa Shoebox-projek het aansoeke amptelik geopen vir begunstigdes wat mense toelaat om ‘n skool, creche, of kinder-gefokusde organisasie te benoem wat verdien om Santa Shoeboxes te ontvang. Die Santa Shoebox-projek wat in 2006 in Kaapstad ontstaan het, skenk geskenke in skoenebokse aan minderbevoorregte kinders in die land en Namibië. Hy het verlede jaar 74-duisend-751 skoenbokse aan begunstigdes uitgedeel insluitend die Kisima-weeshuis, Hearts of Hope, en die Planet Brain Academy in Namibië. Aansoeke sluit op 24 April.
# We’re Against Starvation, oftewel die WAS-stigting se Shopping with Love-projek gee waardigheid en hoop aan hawelose mense in Krugersdorp-Wes in Gauteng. Begunstigdes kan klere en skoene wat geskenk is, gratis “koop” en so hulle selfbeeld en selfvertroue ‘n hupstoot te gee. Die WAS-stigter, Esmarelda Van Zyl-Kilian, sê goedhartige ondersteuners maak die projek moontlik. Sy sê die skenkings voorsien nie net in noodsaaklike behoeftes nie, maar maak lewens beter en bevorder deernis in die gemeenskap.
# Die internasionaal-bekroonde groep en vyfmalige wenner van Grammy-toekennings, Ladysmith Black Mambazo sluit Saterdag hulle baie suksesvolle Amerikaanse toer af. Hulle gaan by die Trustees-teater in Savannah, Georgia, optree. Die groep wat 65 jaar in die musiekbedryf vier, toer sedert verlede jaar in Amerika. Hulle gaan ook volgende maand ‘n landwye toer onderneem en Suid-Afrikaanse gehore bekoor met ‘n skatkis van hulle tydlose klassieke liedjies soos Nomathemba en Homeless, asook nuwe liedjies.
# Die wenner van 20 Grammy-toekennings, Bruce Springsteen, gaan sewe albums, waarvan die meeste liedjies nog nie gehoor is nie, op 27 Junie uitreik. Die versameling van 83 liedjies, waarvan 74 nog nooit amptelik uitgereik is nie, gaan as ‘n stel beskikbaar gestel word met die titel Tracks II: The Lost Albums. Springsteen, een die wêreld se gewildste kunstenaars, sê die liedjies is tussen 1983 en 2018 gekomponeer en opgeneem:
# Dis vandag Internasionale Worteldag waarop die bevordering en gebruik van dié groente gevier en mense bewus gemaak word van sy gesondheidsvoordele. Die dag het in Swede ontstaan en word vandag wêreldwyd gevier wanneer mense saamkom om hulle liefde vir hierdie besondere wortelgroente te deel. Interessante feite oor wortels sluit in dat daar meer as 100 eetbare spesies is, dis die groente wat die meeste vitamien A bevat, en 87-persent van die wortel is water.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….