Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die produksie-ateljee Habitat XR bied 3D-drukdienste aan natuurlewe rehabilitasiesentrums in Suider-Afrika deur die maak van kunsledemate vir beseerde diere. Die program is gemik op diere soos skilpaaie en krokodille om hulle lewensgehalte te verbeter. Die ateljee bied 3D-skanderings, ontwerp, en drukwerk gratis aan, onderworpe aan ‘n evaluering. Hulle sê die baanbrekerspoging beloof ‘n nuwe lewe vir talle diere.
# Die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls in Kaapstad vier ‘n mylpaal na die vrylating van ‘n duisend pas-uitgebroeide Afrika-pikkewyne in die natuur vanjaar. Die stigting, wat die eiers in broeikaste uitgebroei het, beklemtoon sy noodsaaklike rol om die uitwissing van die bedreigde spesie te voorkom. Die stigting sê die prestasie benadruk sy deurlopende verbintenis tot die bewaring van seevoëls.
# Rekeningkunde-studente aan die Universiteit van die Witwatersrand se herbenoemde Margo Steele-skool vir Rekeningkunde het ‘n skenking van sowat 180-miljoen-rand oor die volgende tien jaar ontvang. Die anonieme skenking deur ‘n oudstudent is ter ere van professor Margo Steele wat die eerste vroulike hoof van die skool was. Professor Zubair Wadee sê die skenking sal die 140 studente in die sogenaamde vermiste middel geweldig baie help.
# Die Grammy-bekroonde country-superster, Carrie Underwood, gaan volgende jaar as beoordelaar by American Idol aansluit vir dié program se 23ste seisoen. Sy vervang Katy Perry, wat na sewe seisoene die program verlaat. Lionel Richie en Luke Bryan sal na verwagting as beoordelaars terugkeer. Underwood, wat American Idol in 2005 gewen het, het agt Grammy-toekennings en altesaam 25 toekennings van die Academy of Country Music en Country-musiekvereniging ontvang. Sy spog ook met agt albums.
# En ten slotte: Die Lotto Powerball-boerpot in Nieu-Seeland bereik Saterdag ‘n geraamde 357-miljoen-rand. Dit is die tweede grootste boerpot vanjaar nadat sewe mense in Junie 540-mijoen-rand gedeel het. Dit beteken elkeen het 77,8-miljoen-rand in die sak gesteek. New Zealand Herald berig die langste heruitreiking van die Powerball-boerpot in die land was 24 keer voor dit gewen is. Dertien spelers het reeds vanjaar Nieu-Seelandse dollar-multimiljoenêrs geword.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….