Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die hoof van die Departement van Uitvoerende Kunste aan die Fakulteit van Kuns en Ontwerp aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Rostislave Pashkevitch-Ngobeni, is met die Amaqhawe – Our Heroes– prestasietoekenning vereer. Die toekenning het ten doel om erkenning te gee aan die pad van onbesonge helde of alledaagse mense wat buitengewone dinge doen en ‘n inspirasie vir gemeenskappe en lande is. Die ander ontvangers vanjaar sluit in Victor Sithole, ‘n Suid-Afrikaanse musikant wat bekend is vir sy werk met meer as 26 tradisionele musiekinstrumente.
# Die KwaZulu-Natalse Museum vier sy 120ste verjaardag tydens Erfenismaand in September met ‘n spesiale uitstalling van 120 voorwerpe uit sy versameling. Die museum is in 1904 gestig en huisves talle verskillende items en uitstallings. Die museum beskik oor die grootste versameling taksidermiese Afrika-soogdiere onder een dak wat in hulle natuurlike habitat uitgebeeld word, ‘n onderwatertoneel in die mariene-gallery en herskepte geskiedkundige tonele soos die Drakensberg-grot.
# Die Kuns- en Kultuurtrust het 50 kandidate uit al nege provinsies gekies vir die vierde ACT Thuthukisani-program Atologa 2024. Die program is ‘n sakeontwikkelingsplan wat op die been gebring is om kunstenaars en kreatiewe entrepreneurs te bemagtig. Na voltooing van die opleidingsprogram sal deelnemers ‘n sertifikaat ontvang wanneer hulle aan 100-persent van die programvereistes voldoen. Die trust se uitvoerende hoof, Jessica Denyschen, sê hulle sien uit daarna om hierdie talentvolle mense te sien groei en tot die kuns- en kultuursektor by te dra.
# EcoActive bied die naweek sy sesde jaarlikse strandwedloop op die Muizenbergse strand in Kaapstad aan. Die geleentheid is bedoel om geld in te samel vir sy verdrinkings- en uitsakvoorkomingsprogramme vir die jeug in Capricornpark, Lavender Hill en omliggende gebiede. Mense kan aan die vyf- of sewe-kilometer wedloop deelneem. Deur die EcoActive-leer-om-te-swem-program ontvang jaarliks meer as 500 graad vier-leerders weeklikse basiese swemlesse om hulle te help om veilig in water te wees.
# En ten slotte: Italië is die voorste bestemming vir kindervriendelike verblyf en meer as 80-persent van sy hotelle is spesifiek op gesinne gemik. Dit is volgens ‘n meningspeiling deur die toeroperateur, Go2Africa. Die land het drie-duisend-274 hotelle waaruit toeriste kan kies en dit sluit uitstaande blyplekke soos Hotel Artemide in Rome in. Brasilië is tweede op die lys met 71,51-persent kindervriendelike hotelle, en Oostenryk derde. Ander lande onder die toptien sluit in Griekeland, Frankryk, Spanje en Turkye.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….